Plaas jouself in Jacomien se raam

Jacomien van Wyk het in 2017 'n Facebook-raam geskep en dié word sedertdien op menige profiele gebruik.

POLOKWANE – Op 27 Oktober 2017 skep plaaslike inwoner, Jacomien van Wyk, ‘n Facebook-raam nadat ‘n reeks plaasmoorde op mekaar gevolg het. 

“Daar was die moord op Dr. Werner Emslie van Lephalale wat gevolg is deur drie plaasmoorde op 24 Oktober 2017. Een van dié moorde was van Joubert Conradie te Klapmuts wat gelei het tot die ‘Swart Maandag’ veldtog waartydens boere en gemeenskappe in hul duisende betoog het teen plaasaanvalle en -moorde,” verduidelik Jacomien.

Sy het self op ‘n plaas grootgeword en onthou die sorgeloosheid en kommervry-lewe as kind. “Ek het verskeie vriende en kennisse wat persoonlik deur soortgelyke tragedies moes worstel. Dit is hartverskeurend as mense na aan jou deur soveel wreedheid aangeraak word en hoe boere en gesinne weer die stukke moet optel. Ek ken die verlammende vrees as ‘n foon snags lui… boosheid het nog ‘n boer kom haal.”

Jacomien het nooit gedink dat ‘n raam wat sy drie jaar gelede geskep het, vandag op soveel ander se Facebook-profiele te sien sal wees nie. 

“Ek het die raam geskep as ‘n persoonlike bydrae tot ons almal se strewe na harmonie in ons land. Ek is maar net ‘n klein deeltjie van ‘n gemeenskap en land wie se harte geraak word. Die hoop op lewe het ‘n geveg om oorlewing geword en ek dink talle mense kan daarmee identifiseer,” voeg sy by.

Die Facebook-raam wat Jacomien van Wyk geskep het.

Jacomien verduidelik die idee agter die raam se ontwerp: “Die bebloede hand dui vir my op die sinnelose geweld en bloeddorstigheid waarmee moorde gepleeg word. Boere, vroue en kinders word stukkend weggegooi. Die geel bewoording is vir my ‘n uitbeelding van ons nasie wat in vlamme opgaan. Ons toekoms word verskroei deur wreedheid en boosheid. Ons kinders gaan slaap bang en staan bang op. Die glorie van ‘n manjifieke plaas-sonsondergang het ‘n rooi grynslag en belofte van ‘n slapelose nag geword en ‘n boer wat sy vrou en kinders nag soen, is nou ‘n afskeidsritueel.” 

Die hoeveelheid keer wat haar raam deur ander gebruik is, is onbekend, maar vir Jacomien is dié nie ‘n statistiek wat belangrik is nie. “Wat saak maak en lekker is om te weet is dat mense wel uit hul pad gaan om dit te ondersteun en hul stemme by ‘n hulpkreet te voeg. Daar is ‘n gevoel van samehorigheid en meelewendheid wat besig is om deur ons land en sosiale media te versprei soos ‘n veldbrand. Ons is almal saam in hierdie ding.”

Haar gebed is eenvoudig: “Mag God ons land en sy mense red. Mag ons weer heel opstaan! Mag vooruitgang, hoop en harmonie weer in ons harte kom nes skrop en mag ons weer trots kan staan – Ons vir Jou, Suid-Afrika!”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group.
Exit mobile version