Local NewsNews

Vinkel en Koljander is dié Wilna en Marina

Dié twee vriendinne deel ‘n interessante geskiedenis waarmee min ander kan spog.

POLOKWANE – Vriende is geskenke van Bo, mense wat jou aanvaar vir wie jy is en dra deur die uitdagings wat die lewe jou bied. Volgens kenners is ‘n vriendskap wat vir sewe jaar hou een wat vir altyd sal hou.

Twee vriendinne wat hiervan kan getuig is Marina Labuschagne en Wilna Joubert wat reeds 40 jaar lank vriende is.

Marina vertel hulle het in 1980, toe hulle in gr.10 was, vriende geraak.

“Ek kan nie onthou hoe dit gebeur het nie, maar ons was vinnig groot vriende wat na aan mekaar was. Ons was, vreemd genoeg, teenoorgesteldes van mekaar. Waar sy ‘n introvert was, was ek ‘n ekstrovert. Sy was slim, ek was gemiddeld. Sy was gek oor wiskunde en natskei waar ek weer meer van tale gehou het.”

Dit vertel sy, is hoekom hulle mekaar so goed aanvul. “Ons het alles saam gedoen en elke naweek saam spandeer. Ons het gedurig saam gekuier en was net altyd bymekaar. Ons kon ook ure by mekaar wees sonder om ‘n woord te sê.”

Die vriendinne het albei in gr.12 swanger geraak en dit het hulle nog nader aan mekaar gebring.

“Ons het saam-saam ons eindeksamen geskryf met dié geheime wat onder ons harte groei. Ons is altwee ook in daardie Desember getroud, ‘n week uit mekaar uit en ons baba’s is op dieselfde dag, net twee weke uitmekaar, gebore. Ons was heel toevallig in dieselfde hospitaalkamer ook,” onthou Marina.

Sy vertel hulle kinders het groot vriende geword en sy het later weer ‘n baba gehad. Met haar derde swangerskap was Wilna swanger met haar tweede kind. “Hierdie twee kinders is twee maande uit mekaar gebore en vandag nog baie groot vriende. Ek onthou hoe Wilna studeer het en hoe ek dan sommer na haar kinders gekyk het. Sy en haar man het later Mokopane toe verhuis, maar dit het ons nie gekeer om mekaar steeds te ondersteun nie.”

Beide vriendinne het die pyn van egskeiding ervaar en mekaar ook daardeur ondersteun.

“Buiten vir die feit dat ons soveel saam deurgemaak het, was die feit dat ons altwee ons eerste swangeskappe geheim moes hou die een dinge wat ons vriendskapsbande vir ewig geseël het.”

“Dit het ons nader aan mekaar gebring. Wilna het intussen na Australië geëmigreer en ons kommunikeer nog gereeld deur WhatsApp. Ek dink as ons nou weer bymekaar uitkom, sal ons net aangaan asof ons nooit weg was van mekaar nie.”

Hulle het talle herinneringe saam, en Marina vertel hoe hulle een dag in die Romeins Katolieke kerk ingesluip het om te sien hoe dit lyk.

“Wilna is baie nuuskiering en wou selfs gaan kyk hoe lyk die lykshuis binne. Hier het ek egter ‘n stokkie voor gesteek. Ons herinneringe is net mooi en ons kan nie onthou dat ons ooit saam in die moeilikheid was nie.”

Wilna vertel sy sal, as sy moet, weer kies om vriende met Marina te wees. “Ek onthou hoe Marina artikels vir my gebrei het vir huishoudkunde en ek het ‘n sonrok van haar se pante onderstebo vasgewerk. By die ritsluiter was daar later ‘n gat van al die kere wat hy losgetrek moes word.”

Behalwe vir die geboortes van hul kinders, hul huwelik en egskeidings was hulle met ander mylpale ook bymekaar.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

Related Articles

Back to top button