Kankerstryd: Help om Nico se lewenskwaliteit te verbeter

As 5 000 mense slegs R20 gee, sal die familie amper genoeg geld hê vir operasie.

POLOKWANE – Op 48-jarige ouderdom lê jou hele lewe nog voor jou. Jy het nog ‘n hele paar jaar van werk wat op jou wag en dan as jy gelukkig is, kan jy gaan aftree in ‘n huisie by die see of dalk ‘n houthuis in die bos. Ongelukkig is dit nie vir almal beskore nie, en een persoon vir wie die droom nie in die pyplyn is nie, is Nico Venter.

Nico het sy skoolloopbaan aan Hoër Tegniese Skool Tom Naudé in 1989 voltooi. Vandag is hy ‘n projekbestuurder by ‘n konstruksie maatskappy in die stad.

Nerize Badenhorst, sy dogter, vertel haar pa is met fase vier kanker gediagnoseer en is terminaal. “My pa het konstante pyn gehad in sy sy en het eers gedink dis van ‘n stamp of iets, maar later het hy slegter begin voel. Hy is dokter toe wat verskeie toetse gedoen en na ‘n biopsie en skanderings bepaal my pa het kanker in sy limfkliere aan die linkerkant van sy bolyf. Die skanderings het ook gewys daar is kolle op sy milt. Die biopsie het bevestig dit is kanker. Verdere skanderings het later bevestig die hele milt is nou geaffekteer. Ons harte is aan flarde. My pa is nog so jonk.”

Nerize vertel die dokters het aan Nico verduidelik die kanker in die milt is mobiel en het nog nie tentakels gemaak en versprei nie. Die klier onder sy linkerarm word groter en die kans bestaan dat dié kan bars. Dit sal beteken Nico kan hom doodbloei, ongeag of die klier binne toe of buite toe bars.

“‘n Plaaslike sjirurg het my pa na ‘n onkoloog by die Eugene Marais Hospitaal verwys. Hierna is hy verwys na Mary Potter Onkologie Hospitaal in Groenkloof. Dokters het bevind, aangesien hy twee organe het wat geaffekteer word, kwalifiseer hy vir ‘n kliniese proef vir nuwe medikasie. Ongelukkig het dit nie gewerk vir sy tipe melanoom kanker nie en moet hy dringend ‘n operasie ondergaan. Die dokters het gesê sy prognose is sleg en hy kan nie meer werk nie. Hy het nie ‘n mediese fonds of hospitaalplan nie.”

Die familie is nou besig om geld bymekaar te maak vir die operasie wat alles ingesluit ongeveer R120 000 beloop. Na sy operasie sal sy medikasie ongeveer R7 000 per maand beloop. Sy familie glo vas hoe meer hulle van die kanker kan uitsny, hoe beter sal sy lewenskwaliteit na die operasie wees. Hy sal nie kankervry wees nie, maar sy lewe sal verleng wees.

“Ons as familie vra, as julle dit in julle harte kan vind, om ‘n paar rand te skenk. As 5 000 mense slegs R20 gee, sal ons amper genoeg geld hê. Hy is so geliefd deur sy familie en vriende en almal wat hom ken. Hy is die vriendelikste, snaakste en trotste persoon wat ek ken en ons is so lief vir hom.”

Die familie het ‘n Facebookblad gestig asook ‘n GoGetFunding-bladsy om geld in te samel: https://goget.fund/3cC7Glz.

Facebook: Nico’s Fight.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version