Martin het jou hulp nodig

Martin du Toit is met divertikulose gediagnoseer en benodig hulp om privaat behandeling te kry.

POLOKWANE – Op die oog af is Martin du Toit ‘n gesonde 40-jarige man, maar agter sy moedige glimlag is daar pyn en bekommernis.

Hierdie pa van twee se probleme het twee jaar gelede begin toe hy skielik bloed in sy stoelgang opmerk het. Dokter het hom aanvanklik behandel vir ‘n maagseer, maar die probleem het vererger.

“Verlede jaar in Februarie is ek weer na ‘n dokter waar ek barium moes sluk terwyl hulle X-straalplate neem van my ingewande.”

Die dokter het bevestig dit is divertikulose. Divertikulose is wanneer sakke wat divertikula genoem word, in die wande van ‘n mens se spysverteringskanaal en derms vorm.

Martin vertel hy het medikasie gekry wat hy tot onlangs nog geneem het. Sy maag het steeds gebloei en hy is na die Steve Biko Akademiese Hospitaal vir behandeling.

“Ek was eers by ‘n algemene praktisyn in Polokwane wat my na die hospitaal verwys het, maar ek moes in Pretoria weer na ‘n algemene praktisyn gaan wat toe bloedtoetse gedoen het. Hy’t gesê ek moet so gou moontlik na die hospitaal gaan. Hier het hulle my egter met ‘n bloeiende aambei gediagnoseer en weer huistoe gestuur.”

Hy is egter in erge pyn en die medikasie help nie meer nie.’n Kolonoskopie is ook reeds gedoen.

“Volgens die toetse het die divertikulose versprei na my kolon. Ek moet na ses maande teruggaan.”

Die afgelope twee weke is hy in en uit by die hospitaal, waar hy soms tot 24 uur gewag het vir ‘n bed, net om na drie dae weer ontslaan te word, elke keer met antibiotika en pynpille.

“Ons is nie gelukkig met die behandeling wat ek tans by die staatshospitale ontvang nie en wil graag na ‘n privaat dokter en hospitaal gaan vir behandeling. Dit gaan beteken dat ek weer ‘n kolonoskopie moet kry.”

Martin moet gereeld tyd afknyp by die werk vanweë sy gesondheid.

“Ek werk nou maar eers ‘n jaar by die maatskappy en gaan binnekort onbetaalde verlof moet begin neem. Dus wil ek so gou as moontlik die regte hulp kry,” het hy gesê.

Martin se vrou, Martie vertel haar twee kinders, Rentia en Stefan Bekker, se pa is op ‘n vroeë ouderdom oorlede.”Hulle het al vir my gesê hulle wil nie nog ‘n pappa verloor nie. Ons kan nie eers vir ‘n naweek weggaan nie, aangesien die kans te groot is dat Martin weer begin bloei en ons dringend by die hospitaal moet uitkom. Dit is ‘n spanningsvolle tyd vir ons almal.”

Na beraming het Martin sowat R100 000 nodig vir konsultasies, hospitalisasie en die kolonoskopie. Indien jy kan bydra, sien die onderstaande rekeningbesonderhede.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version