Local NewsNews

Met modeontwerp maak Maricke die mooiste mooi

Wanneer dié elfjarige nie elke tweede dag skooltoe gaan nie, is sy reeds volstoom aan die werk op haar naaldwerkmasjien.

POLOKWANE – Op 11-jarige hou Maricke Fourie haar reeds besig om voorraad vir haar besigheid aan te skaf.

Maricke droom al jare daarvan om ‘n klereontwerper te word en het pligsgetrou gespaar om haar eie naaldwerkmasjien te koop. En toe die verrassing.

“Ek het op 5 Junie verjaar en toe het my ma en pa vir my my eie masjien present gegee. My ouma, Ria Fourie, doen baie goed naaldwerk en sy het my touwys gemaak oor hoe die masjien werk. Hy het 155 verskillende steke. Ouma het my ook geleer hoe om die spanning op die masjien reg te stel.”

Maricke ontwerp reeds vandat sy vier jaar oud is en droom daarvan om ontwerpe te maak wat geskik is vir die wêreld se groot loopplanke. Haar besigheid, MWare, se naam het sy met haar ouers se hulp uitgedink.

“Ek het die naam gekies want dit is Maricke se klerereeks. Ons gaan my klere aanlyn ook verkoop.”

Maricke het besluit om buffs, wat nou juis so gewild is, te maak en te verkoop. Haar pa, Drickus, het haar eerste bestelling lap gekoop en vir haar patrone gemaak om vanaf te werk. Sy vertel dit neem haar ongeveer 45 minute om een buff te maak.

Buffs is gemakliker as maskers. Pappa het vir my my eerste klomp lap gekoop en ek het later my wins gebruik om nog te koop. Ek verpak die buffs in ‘n botteltjie. Daar is grotes vir volwassenes en dan Kleiner buffs vir kinders. Ek het ‘n klompie bestellings in Pretoria gehad wat my boetie, Frederick, vir my gaan aflewer het.”

Sy vertel laggend sy het al ‘n flop of twee gemaak, gewoonlik waar sy die lap skeef sny. Sy beoog ook om binnekort linte te maak waar die eienaar dit self kan stileer soos hulle dit wil hê. Wanneer sy nie buffs maak nie, is sy ‘n leerder by Oosskool – ten minste elke tweede dag tydens die grendeltyd.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button