Local NewsNews

Retief-gesin vier hul kampioenpa

Alleenpa Marius Retief sê hy verruil sy kinders vir niks nie.

POLOKWANE – Liefde is die fondasie waarop die Retief-gesin se verhouding gebou is.

Hierdie gesin doen alles – van planne maak en lag tot speel en kuier – saam. Marius maak sy twee kinders, Adrian (13) en Suné (15), reeds die afgelope nege jaar, alleen groot.
“Dit was nie altyd maklik nie maar dit was beslis die moeite werd. Daar is so nege jaar gelede besluit dat ek hulle sou grootmaak. Ek sal die kinders vir niks in die wêreld verruil nie.”

Suné was skaars nege maande oud toe sy reeds ‘n breinoperasie moes ondergaan. “Daarna het nog operasies gevolg. Daar is wel baie uitdagings, sy is blind in haar regteroog en haar regtersy is nie altyd in lyn nie.”

Marius vertel sy grootste leerkurwe tot dusver was om ‘n meisie groot te maak.  “Dis anders as om ‘n seun groot te maak omdat ‘n mens sekere dinge moet leer. Ek het gelukkig ‘n paar vriendinne wat help waar dit moet.”

Marius vertel nou dat die kinders tieners is, is dit vir hom makliker. “Tans is die uitdaging om alles gebalanseer te kry. Ek werk soms lang ure en dit maak dit moeilik. Die kinders, alhoewel hulle in verskillende skole is, word naskool na een plek toe geneem waar ek hulle oplaai. Dan is dit huiswerk en kos gee.”

Die gesin spandeer so veel moontlik tyd saam met mekaar en geniet dit om by die watervalle te gaan swem of tyd in die natuur te spandeer. Naweke word Marius bederf met koffie in die bed. Vir Vadersdag vanjaar beplan die kinders om hulle pa te bederf met meer as net koffie in die bed.

“Ons het klaar vir hom geskenke gemaak,” vertel Suné. Sy vertel sy is lief daarvoor om vir hom briefies te skryf en soentjies uit te deel, maar sy is nou oud genoeg om hom nie meer pappa te noem nie, maar eerder “Pa” of “Daddy”.

Vir Adrian is hy steeds “Pappa” en hy is dankbaar dat Marius so hard werk om vir hulle te voorsien.
Die gesin sien beslis uit om Vadersdag saam deur te bring.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button