Local NewsNews

Baba Xavier sterk mooi aan na operasie

‘n Opvolgoperasie is solank vir 30 Junie geskeduleer.

POLOKWANE – Minder as ‘n maand na sy eerste operasie, sien die sesmaande-oue baba Xavier Britz se ouers reeds ‘n groot verskil.

Xavier is met ‘n gesplete lip en verhemelte gebore. Op 4 Mei het sy ouma, Elana Britz, hom vergesel na die hospitaal in Pretoria vir ‘n operasie waarin sy kleintongetjie en al die spiere aan die agterkant van sy mond geheg is.

Vegter Xavier het jou hulp nodig

Waar sy ouers, Nicole Britz en Barry van Rooyen met sy geboorte baie bang en onseker was oor wat die toekoms inhou, is hulle nou meer gerus.  “Ons moet hom op 30 Junie terugneem vir die volgende operasie, waar hulle sy voorste verhemelte, lip en neus gaan herstel. Op 10-jarige ouderdom sal hy moet gaan vir ‘n operasie waar hulle been vanuit sy heup neem en sy harde verhemelte herstel,” vertel Nicole.

Na sy operasie vroeër die maand, wat drie ure geduur het, het Xavier se stem verander en ook sy asemhaling. Die rede hiervoor is dat sy lugweg nie meer so oop is soos voorheen nie.  Hy kon Maandag, na sy opvolgbesoek aan die dokter, vaste kos begin eet.

“Hy mag nou glad nie siek raak of enige medikasie drink nie. Twee weke voor sy volgende operasie moet hy weer die dokter in Polokwane sien om te bepaal of hy gereed is vir die operasie,” verduidelik Nicole.

Elana vertel alhoewel hulle lid is van ‘n mediese fonds, hulle plan nie al die uitgawes dek nie. Dit, tesame met die grendeltyd, het hulle uitgawes aansienlik opgejaag aangesien gastehuise toe is en hulle heeltyd heen en weer moet reis. ”Ons het wel kort voor sy eerste operasie ‘n groot skenking gekry en dit het ons ongelooflik baie gehelp. Ons wil graag dankie sê daarvoor.”

Xavier sal wel later van tyd ‘n spraakterapeut moet sien asook ‘n oudioloog aangesien hy dreineringsbuisies in sy ore moet kry, iets wat algemeen is onder kinders met gesplete verhemeltes.

“Hy mag darem nou al ‘n fopspeen suig, en ons moet kort-kort, veral nadat hy geëet het, ‘n ontsmettingsmiddel in sy mondjie spuit,” vertel Elana.

Xavier is volgens sy ouers ‘n maklike kind wat nie sommer huil nie en vriendelik is met mense wat hy ken. Daar is ‘n spaarrekening vir Xavier gestig en enige donasies sal opreg waardeer word.

Bankbesonderhede:

Capitec Bank

Xavier Britz

Rekeningnommer: 1662162152

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

Related Articles

Back to top button