Polokwane leerder se afsterwe diep betreur

André Grobler is op 12 Mei in 'n motorfietsbotsing oorlede

POLOKWANE – Skaars ‘n week nadat André Grobler sy 19de verjaarsdag gevier het, moes sy familie en vriende van hom afskeid neem.

André is op 12 Mei oorlede na hy met sy motorfiets na ‘n winkelsentrum toe is en ‘n botsing op pad terug huis toe gebeur het. André, ‘n gr.12-leerder aan Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, was gewild onder sy vriende.

Die hartseer lê nog vlak maar sy ma, Sandra, en ouboet, Dirk, vertel dat André ‘n hart van goud gehad het, en daar altyd plek was vir nog iemand in sy hart.

“Hy het die vermoë gehad om ‘n slegte dag in ‘n baie beter dag te omskep en sy terggees was aansteeklik,” onthou Dirk. Sandra voeg by dat André altyd baie respek vir sy medemens gehad het, veral vir volwassenes.

“Ek was Woensdagmiddag by die werk toe ek ‘n oproep kry van die ongeluk.” Ek het daarheen gehaas en toe ek so om die draai kom, toe sien ek André onder ‘n silwer kombers. Ek het net geweet dit is my kind. Ek het nog nooit so gebewe nie.”

Sandra se man en die kinders se pa, Gustav, het in 2015 by die Mamadiladam in Moletjie verdrink. Sandra vertel dat dit vir haar moeilik was om verlede Woensdag die nuus van André met haar skoonma te deel.

“Sy het vir my gesê ons kinders moet haar begrawe, sy moet nie haar kinders of selfs haar kleinkinders ooit hoef te begrawe nie.”

Sandra onthou André as ‘n kind wat voluit gelewe het en gek was daaroor om drukkies uit te deel. “Hy was lief vir visvang en motorfietsry.” Hy het rugby gespeel, maar na ‘n kniebesering onlangs het hy hom meer toegespits op karate en blitskrieket.”

André was ook lief vir sing en Dirk onthou hoe André die Saterdag voor sy dood, Manie Jackson se Die Hemel Weet uit volle bors gesing het.Dié lied is ook tydens sy begrafnis gespeel.

“Ek gaan hom baie mis, veral hoe hy die honde geterg het en sy laaste woorde saans, ‘Goodnight ma, lekker slaap, lief vir ma.'”

Hy was ongelooflik lief vir diere en het ‘n klein hartjie gehad as dit kom by mense wat swaarkry. “Hy het elke dag ekstra kos skool toe gevat vir iemand wat nie kos gehad het nie,” vertel Sandra.

Sy noem dat André baie verantwoordelik was en het haar altyd laat weet as hy veilig by sy bestemming is. Hy het sy eerste motorfiets verlede jaar vir sy 18de verjaarsdag gekry en einde Desember die nuwe motorfiets.

“Hy het sy goed mooi opgepas en omgegee daarvoor.”

André is Vrydag vanuit die Nederduitsch Hervormde Kerk Welgelegen Pietersburg begrawe. Hy word oorleef deur sy ouma, Marietjie, sy ma, ouboet en ander familie.

HTS Tom Naudé se gr. 12-graadhoof, Hanri Love onthou André as ‘n stil, goedgemanierde leerder. “Hy was fluks en ook hoflik en ‘n baie sensitiewe kind. Hy was ‘n opregte en geliefde vriend vir al sy klasmaats.”

Een van André se vriende, Dylan Almeida, het ook ‘n boodskap.

“Almal wie gelukkig genoeg was om jou te ken was geïnspireer deur jou positiwiteit en oneindige liefde. Dankie vir al die tye saam van gr. 8 af, ek is dankbaar dat jy deel van my lewe kon wees. Jou aansteeklike glimlag sal ek elke dag mis. Jy sal altyd in my hart aanhou lewe. Ons almal het jou lief en gaan jou diep mis.”

André se niggie, Darnel van Rooyen, was saam met hom in gr. 12. “André was ‘n goeie mens met ‘n goeie hart. Hy was altyd vol grappies, maar het ook altyd raad gehad vir almal. Hy was nie net ‘n goeie neef nie, maar ook ‘n goeie vriend. Hy laat soveel herinneringe agter. Ons bly dankbaar dat die Here een van Sy seuns vir ons geleen het. Ek gaan jou baie mis, André, maar jy is weer saam met jou pa.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
Exit mobile version