God & Geld deur Wilco Naumann plaas jou in beheer

Met sy boek, God & Geld, help Wilco Naumann lesers om beheer te neem oor hulle finansies met 'n Bybelse fundering.

POLOKWANE – Sonder geld is ons voortbestaan feitlik onmoontlik en juis as gevolg daarvan, is dit ook een van die grootste oorsake van spanning en onderonsies in ons lewe.

Met sy boek, God & Geld, help Wilco Naumann lesers om beheer te neem oor hulle finansies met ‘n Bybelse fundering. Wilco het sy skoolloopbaan by Hoërskool Pietersburg voltooi en kort daarna sy eie besigheid oopgemaak.

“Ek het arm grootgeword en glad nie daarvan gehou nie. Ek het vroeg in my lewe besluit ek wil nie arm wees nie en het hard gewerk. Ek het verskeie eiendomme gehad asook agt takke van my besigheid. In 2013 was ek finansieel op ‘n baie goeie plek maar terselfdertyd was ek ongelukkig. Ek het besef ek is deel van die gejaag en depressief. Ek het my na die Here gewend en gebid, wat is die punt van alles. God het aan my gesê Hy skep almal met ‘n doel. Ek het met erns my Bybel begin lees en besef daar is twee stelsels, die Bybelse stelsel en die wêreld se stelsel. Ek het begin soek na my doel.”

Wilco het alles verloor, sy eiendom verkoop en die besigheid toegemaak. Hy het baie boeke gelees oor geld en die invloed daarvan op jou lewe asook seminare bygewoon en begin om sy eie seminaar te skryf. Vier jaar gelede besluit hy om ‘n boek te skryf om ander mense te help om hulle geld reg te gebruik.

“Dit het my so drie jaar geneem om die boek finaal af te handel en daarna het ek dit na uitgewers gestuur maar niks van hulle gehoor nie. In Augustus het ek besluit om die boek self uit te gee. Die boek is vir elke mens geskryf in ‘n taal wat almal sal verstaan. Van die onderwerpe wat bespreek word is belasting, die gevare van geld en hoe om jou perspektief ten opsigte van geld reg te kry volgens die woord.”

Wilco het self deur al die toetse in die boek gegaan en skryf uit persoonlike ondervinding.

“Nadat my besigheid gevou het, het ek nooit ‘n tekort gehad nie want die Here het altyd voorsien. Ek het gedink my besigheid is die bron van my geluk maar die besigheid is net ‘n stroom – die bron is die Here.”

Hy verduidelik die boek gaan nie oor hoe om meer geld te maak nie, maar eerder hoe om jou ekonomiese waarde te verhoog. Die boek is ook nie net vir Christene geskryf nie maar het universele waardes en ‘n Bybelse fondasie. Dit is ook nie ‘n manier om vinnig ryk te word nie.

“Ek konsulteer tans vir besighede en lewer ook seminare en praatjies by damesoggende en manne-gebedsgroepe.”

Om dié boek te bestel, besoek sy webbladsy by https://wilconaumann.com/.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
Exit mobile version