Local NewsNews

Oogprobleem stuit hom min

Stephaans Breytenbach (18) het kolobome in beide sy oë maar het steeds sy skoolloopbaan in 'n hoofstroomskool voltooi.

POLOKWANE – Stephaans Breytenbach (18) is die jongste van drie kinders en baie geliefd onder sy vriende en familie.

Hy het sy skoolloopbaan verlede jaar aan Curro Heuwelkruin voltooi en weggestap met die Kruinie Guts trofee tydens hul Matriektee. Die rede waarom hy dié spesiale trofee ontvang het, is dat hy gesiggestrem is, maar steeds sy skoolloopbaan in ‘n hoofstroomskool voltooi het.

“Ek het kolobome in beide my oë. Dit beteken ek kan net met die kante van my oë sien. Ek het nie die makulêre geel kol in my oë nie en was 18 maande oud toe my ouers uitgevind het ek kan net lig en donker en beweging sien.”

Stephaans is egter ‘n lopende wonderwerk aangesien hy kan lees en skryf en ook kleur kan sien. Dié toestand is ongelukkig ook nie herstelbaar nie, aangesien daar dele van Stephaans se oë is wat daar moet wees, maar nie is nie.

“My ouers het besluit om my van die begin af in Heuwelkruin te sit aangesien hulle my so normaal as moontlik wou grootmaak. Hulle het gevoel ‘n hoofstroomskool sou die beste wees. Die skool vir gesiggestremdes is in Pretoria en hulle was nie bereid om my op so ‘n jong ouderdom so ver te weg stuur nie.”

Hy het wel later in sy skoolloopbaan, in gr. 9 na Prinshof School for the Visually Impaired gegaan. Na slegs drie maande het hy besluit om terug te keer na Heuwelkruin.

“Ons wou kyk of ek wel voordeel sou trek in daardie skool, maar ek het vinnig besef dat die skool nie vir my is nie. Ek was nog altyd hardwerkend en glo nie daaraan dat die wêreld my iets skuld nie, ek moet werk vir wat ek wil hê. Verder het ek ook my vriende gemis.”

Die feit dat Stephaans nie op die bord kan sien nie, was die grootste uitdaging. Sy ouers het ‘n assistent aangestel om hom in klasse te help. Hy was ook baie betrokke by sport en kultuur.

“Ek het tot in gr. 9 saam met die ander seuns rugby geoefen en was ook spanbestuurder vanaf gr.1 tot gr. 9. As gevolg van my sig kon ek egter nie in wedstryde speel nie. Ek het ook elke jaar aan die atletiek huisbyeenkoms deelgeneem.”

Stephaans het van gr. 1 tot gr. 7 gedigte voorgedra en saam met sy klas spreekkoor gedoen. In gr. 5, 7 en 12 was hy ook deel van die konserte wat deur die skool aangebied is.

“Ek het deelgeneem elke jaar aan die Mosaik-konsert en in gr. 8 en gr. 9 Tong en Taal.”

Hy is nou ‘n student by Metamorpho en vertel na gr. 12 was hy onseker oor wat hy wil studeer en dus het hy eers by Metamorpho aangesluit.

“Ek beplan om volgende jaar joernalistiek te studeer aangesien my droom is om ‘n sportjoernalis te wees.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

Related Articles

Back to top button