Tenique Els bekoor met haar stem

Tenique Els was 'n agtergrondsanger by Afrikaans Is Groot en beskryf dit as die beste ervaring van haar lewe.

POLOKWANE – Snoepiegeld is iets wat die meeste laerskoolkinders soos goud bewaar. Hiermee koop hulle pouse lekkergoed om aan te peusel, maar Tenique Els (22) het egter iets anders in gedagte gehad in haar skooljare.

“Ons skool het ‘n Idols-tipe kompetisie aangebied en ek wou deelneem. Ek het my snoepiegeld gebruik vir inskrywingsgeld. Ek is die tipe mens wat alles wil probeer al kan ek dit nie doen nie want ten minste het ek dan probeer.”

Laggend vertel Tenique sy het toe die kompetisie gewen en haar snoepiegeld teruggekry. Hierna het sy nie veel aandag aan ‘n sangloopbaan gegee nie, tot veel later.

“In die hoërskool het ek deelgeneem aan revue maar was nie ‘n solosanger nie. Na skool het ek saam met vriende gekuier en een ou het ‘n kitaar uitgehaal. Hy het ‘n bekende liedjie gespeel en ek het saam begin sing. Hy het opsluit besluit om my aan JP Duvenage van Rock Hard Music School voor te stel. Die volgende dag duik die geleentheid op en ek ontmoet hom. Hierna het ons ‘n stemtoets gedoen en het ek deel van hulle studio geword waar ek reeds twee oorspronklike liedjies opgeneem het.”

Tenique het ook betrokke geraak by Taberna Dei se musiekbediening. Tydens ‘n opelug konsert ontmoet sy vir Vinnie Henrico.

“Ons het gesels en hy het gesê hy sal my kontak, maar ek het gedink dit is net praatjies. Ek was eendag besig by die werk toe my foon lui. Ek het eers gedink dit is dalk een van my kollegas, maar dit was toe Vinnie se vrou. Sy het my genooi vir Afrikaans Is Groot. Ek het ingestem maar gedink sy bedoel ons gaan deel van die gehoor wees.”

Sy het my vinnig reggehelp en gesê ek moet saamgaan as agtergrondsanger. Dit was ‘n asemrowende geleentheid en ervaring, die beste een van my lewe.”

Tenique het nog nie ‘n CD op die rakke nie maar verskeie liedjies op Soundcloud. Sy skryf ook haar eie musiek beoog oom hierdie jaar saam met JP en Rock Hard Music, vier optredes aan te bied.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
Exit mobile version