Griepinspuiting nodig, maar nie oplossing vir Korona

Griepinspuitings is so skaars soos hoendertande noudat winter op die dorp se voorstoep is. Bosveld het talle dokterspreekkamers genader, maar moes hoor hulle voorraad is klaar en daar word gewag vir nuwe bestellings wat gedoen is.

LIMPOPO – Lia Pretorius, klinieksister van Mokopane Clicks, sê die vraag na inspuitings was die afgelope twee maande groot. Sowat 800 mense is gehelp, wat die voorraad uitgeput het. Nou word daar gewag vir die aflewering van ‘n bestelling wat reeds so twee weke gelede gedoen is. Pretorius sê die bespiegeling dat die griepinspuiting jou beskerm teen die Koronavirus is nie waar nie. Sy sê dat die griepinspuiting bepaal word deur die vorige jaar se siekte wat uitgebreek het en dat dit hoofsaaklik net beskerming bied teen daardie virusse se infeksies.

“Om die inspuiting te kry beteken ook nie dat jy glad nie griep sal kry nie, maar liewer dat die simptome nie so erg sal wees nie. Sy sê dat die griepvirus wel mens se immuunstelsel afbreek en dat dit die oorsaak is dat pasiënte dan meer vatbaar sal wees vir ander virusse, infeksies en siektes.

Dr. Putswana Senoamadi, algemene praktisyn van Folang Medical Centre, sê dat daar in die begin van die seisoensverandering ‘n groot toename was in die vraag na inentings, maar dat dit nou afgeneem het. Die sentrum het tot dusver sowat 1 000 inentings toegedien en daar is nog voorraad beskikbaar. Senoamadi verduidelik dat die inenting bystand bied vir pasiënte se immuunstelsels en hoewel dit vir almal aanbeveel word, moedig hy spesifiek diegene aan met kroniese siektes om so spoedig as moontlik inentings te kry.

Senoamadi verwys na termiete wat hout kou wanneer hy van pasiënte se immuunstelsels praat. “Die gewone verkoue sal soos die termiete die immuunstelsel begin knaag. Wanneer die termiete of dan nou die griep verby is, is daar skade aan die hout. Hierdie skade aan die hout sal dan vir die geringste stamp of stoot heeltemal breek en uitmekaar val. ‘n Mens se liggaam werk op dieselfde prinsiep en daarom is dit belangrik om jou immuunstelsel sterk te maak sodat die termiete of siektes dit nie aftakel nie.”

Daar is twee enstowwe beskikbaar wat goedgekeur is deur die Wêreldgesondheidsorganisasie. Een van die entstowwe bied beskerming teen drie verkillende virusstamme terwyl die ander entstof beskerming bied teen vier virusstamme. Hierdie virusstamme word deur die erns, asook die simptome van die uitbraak van die vorige jaar bepaal.

bosnews@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
Exit mobile version