Lesley hoop op hulp vir haar wees katkinders

'n Plaaslike vrou wat reeds sewe jaar na weeskatte omsien, moet eersdaags na ‘n aftreeoord verhuis en is hard op soek na ‘n plaasvervangerma vir dié diere.

POLOKWANE -Soos jy nader stap hoor jy haar gesels, maar op die oog af is Lesley Pretorius skynbaar stoksielalleen. Tot jy nader stap, en die sowat agt pare kat-ogies stip na jou sien kyk.

“Hulle is soos my kinders,” vertel sy terwyl sy ‘n sak met kos en ‘n 5l bottel water uit haar motor laai.

Lesley vertel haar verhouding met dié katte het sowat sewe jaar terug begin. “Ek het met my hond by die stadion gestap en ‘n ma-kat met haar werpsel opgemerk. Ek het besluit om vir hulle kos te gee. Later is hulle gesteriliseer en tans is daar agt katte wat al reggemaak is. Elkeen van hulle het ook ‘n naam.”

Effens onseker oor die vreemde mense maar tog nuuskierig hou die katjie die kamera dop.

Terwyl sy die katte rustig voer waar elkeen sy kos en water in sy eie bak kry, gesels sy met hulle. Alhoewel die katte mak by haar is, spat hulle in elke moontlike rigting wanneer vreemdes naderkom.

“Ek voer die katte goeie kos, veeartskos, soos ek my eie troeteldiere ook voer. Aangesien hier nie ‘n kraan is nie, bring ek elke keer water saam. Ek kom twee keer ‘n dag om vir die kolonie kos te gee, en dit werk my ‘n nogal aardige bedraggie uit.”

Sy vertel hoe dr. Xander de Kock van Wolkberg Dierekliniek haar bystaan. “Hy is ‘n dierbare mens en kom my baie tegemoet. Ongelukkig moet ek een of ander tyd na ‘n aftreeoord gaan en dus soek ek nou iemand wat by my kan oorneem om vir die katkinders te sorg.”

Lesley verduidelik hoe enige iemand wat ‘n bydrae wil maak, ongeag kos of geld, dit by Wolkberg Dierekliniek kan doen.

Hier kan ‘n mens sien die katjie is gevang, reggemaak en terug in sy omgewing gesit. Sy oor het ‘n keep in.

Waarom moet wilde katte nie summier van kant gemaak word nie?

• Sodra ‘n mens die katte uit die omgewing verwyder, sal daar ‘n nuwe kolonie intrek. Aangesien daar nuwe wyfies inkom, sal daar gevegte uitbreek.

• Hierdie katte sorg vir plaagbeheer aangesien hulle rotte, muise en slange vang.

•  Die beste oplossing is om die katte te vang, te laat steriliseer en weer terug te laat gaan na waar hulle bly. Sodoende word plaagbeheer steeds toegepas en is daar nie nuwe katte in die omgewing nie.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version