Johandroè se Motocross-drome word baan vir baan waar

Terwyl Johandroè Seitz se nefies hul eie motorfietse het droom die 13-jarige daarvan om ook eendag ene te besit.

POLOKWANE – Vir lank smeek hy sy pa en ma om vir hom een te koop, maar tevergeefs. Die enigste motorfiets wat hy sien is om na videos van motocross op die internet te kyk.

“Een dag het my nefie verjaar en ons gaan ry almal motorfiets op die motocross-baan. Eers aan die einde van die dag het my ouers vir my my eie motorfiets gegee. Hulle het dit ‘n groot geheim gehou en toe ek hom kry en besef dit is myne het ek in trane uitgebars.”

Dit was op 10 Januarie 2019 en ook die eerste keer wat Johandroè op ‘n motorfiets klim. Sy pa, Johan het hom ingeskryf vir lesse en sedertdien oefen hy elke Woensdag van 14:00 tot 17:00 en ook naweke.

“Ek leer baie dinge by die klasse soos hoe om reg te ry, hoe om te val sodat ek nie te seer kry nie en hoe om op die ou einde glad nie te val nie. Ek het al geval en my hand gebreek en meer onlangs ook ‘n paar ernstige skrape opgedoen.”

Alhoewel hy sy motorfiets al meer as ‘n jaar het, ry hy slegs nege maande aangesien die motorfiets ‘n tyd lank stukkend was en parte van oorsee af ingevoer moes word. Sy eerste groot kompetisie was in Januarie waar hy sewende algeheel geëindig het.

“Die lekkerste van motorfiets ry is om so vinnig as moontlik te ry en die slegste is natuurlik as ek val.”

Johan vertel dit is egter ‘n baie duur stokperdjie. As daar enige iemand is wat bereid is om ‘n borg vir Johandroè te wees, sal dit welkom wees. Al is dit nie geld nie, maar iets soos ‘n wiel of parte. Ek wil graag my kind se passie laat voortleef en sy drome laat waar word. Aangesien hy nou eers begin ry het, is daar bane wat hy nog nooit gery het nie en dus moet ons hom daarheen neem om net die baan te oefen sodat hy goed voorbereid is vir kompetisies.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version