Local NewsNews

Sonya van den Heever, onwillige heldin

Sonya van den Heever is maar onwillig om alleen as held geprys te word tussen die talle wat noodsaaklike dienste lewer.

POLOKWANE – Sonya van den Heever het in 2003 as praktykbestuurder by die Redimed mediese praktyk begin werk.

Sy geniet haar werk baie, en sê dat sy uiteindelik ‘n balans gevind het tussen administrasie, pasiënte en om met personeel te werk. Sy meen dit is ‘n voorreg om vir só ‘n groot praktyk te werk “wat voluit vir ons gemeenskap gaan”.

Sy is ‘n geregistreerde verpleegkundige en het haar B.Cur-graad aan die destydse RAU verwerf.

“Ek het lank by die Departement van Gesondheid gewerk, en is later terug na my eerste liefde, die kraamafdeling.”

Sonya het later, toe hulle na Polokwane verhuis het, in Limpopo Mediclinic as vroedvrou in die kraamsaal gewerk. Die behoefte van haar gesin het egter later voorkeur gekry, omdat die lang ure haar tyd met haar jong kinders beperk het.

“Ek het aan-en-af beroepe gevolg buite die mediese beroep, maar my hart het maar altyd met ‘n punt getrek na die mediese wêreld toe.

“Die praktyk is vanaf die begin 24 uur per dag oop, wat ‘n groot voordeel inhou vir pasiënte.

Sonya meen sy is slegs deel van die groot klomp helde in die mediese beroep, binne en buite hulle praktyk. Sy weier om alleen as held uitgesonder te word tussen die talle wat noodsaaklike dienste lewer.

“Daar is beslis twee groepe helde: Die dokters wat in die Covid-19 krisistye onmiddellik begin om verantwoordelikheid te neem: Ons praktyk, byvoorbeeld, is dadelik met glaspanele toegerus, die vloei van pasiënte is verander en beskermende drag is vir personeel gereël.

“En dan is daar ons personeel. Hulle is meestal jonk, maar so gereed en bereid om in hierdie moeilike en uitdagende tyd ons pasiënte te help. Ek is baie trots op elkeen!”

Sy sê dat pasiënte, behalwe in die geval van kinders wat deur ‘n ouer vergesel word, alleen toegelaat word in die praktyk, en ruimte word gehandhaaf tussen mekaar.

Hande word gewas en as mense vermoed hulle het die virus, word hulle nie binne die praktyk toegelaat nie. Diegene sal in hulle voertuig gehelp word, hulle moet net vooraf skakel. Enige koors- en griepsimptome moet vooraf aan die praktyk bekendgemaak word.

Pasiënte word ook versoek om nie vir onbenullighede vir ‘n konsultasie te vra wat hulle risiko onnodig verhoog nie. Daar is ‘n hulplyn as hulle onseker is.

Sy doen ook ‘n beroep op mense om nie onnodig winkels toe te gaan nie en in hulle huise te bly.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button