Covid-19-’gevangenes’ terug uit die vreemde

Liezel en Nicolaas Erasmus, die agtmaande oue Lika en Liezel se ouers het na haar suster in Nieu-Seeland gegaan om daar vakansie te hou vir twee weke.

POLOKWANE – Hulle het op 14 Maart daar aangekom, en vanaf 15 Maart is alle besoekers wat in Nieu-Seeland aangekom het, vir 14 dae in kwarantyn geplaas!

“Ons was baie gelukkig. Ons het dit net gemis!” vertel Lizel. Sy is ‘n onderwyser by ‘n plaaslike laerskool en haar man boer in die omgewing.Hulle het heerlik gekuier – vir ‘n paar dae.

“Ons sou die 28ste terugvlieg en toe kondig Qantas Lugredery aan dat alle vlugte vanaf 30 Maart gestaak is. Ons was verlig, want ons vlug is darem vroeër as die datum. ‘n Dag daarna breek die nuus egter dat Qantas alle vlugte wat deur reisagente gemaak was, kanselleer, en ons was hierby ingesluit. “Ons moed het in ons skoene gesak. Alle ander vlugte was vol en ons kon op geen vlug plek kry nie!”

Ons het hard gebid. My ouers was saam met ons daar en my jonger sussie (16 jaar) was alleen by die huis aangesien haar Europese toer gekanselleer was.

“My ouers moes terugkom vir haar, en ons het gevrees dat ons almal se werke in gedrang kon wees as ons nie betyds terug kon kom nie.” Liezel vertel hoe die sewe volwassenes en twee klein kinders vir twee dae net by die huis was.

“Almal het mekaar opgewerk, en almal het probeer planne maak. Laaste oproep, teen 23:00 die aand na Quantas lewer nuwe hoop op: Daar was plek op vlugte op 24, 25 en 26 Maart. Ons kies toe die 26ste se vlug, sodat ons net nog ‘n bietjie langer kon bly, dit was darem ‘n klomp geld om daar te kom!

“Ons vlugte was bespreek en almal was verlig. Ons gaan uit, geniet onsself, net om die volgende dag te hoor Australië maak alle grense toe vir nie-inwoners van die land, asook diegene in transito. Ons moes deur Australië vlieg.”

Liezel vertel dat die drama toe weer van vooraf begin. “Die vrouens was in trane, niemand weet watter kant toe om te gaan nie! Ons besef half ons is gestrand in Nieu Seeland tot aan die einde Mei. “n Laaste vlug het plek vir ons, maar besigheidsklas, en teen R40 000 per person, ons besluit. Dis net te veel geld vir een person. ‘n Wolk hang oor die huis. “Almal voel vasgekeer in hul eie gedagtes, almal is hartseer en niemand weet wat die toekoms inhou nie. Ons maak maar die beste van die tyd wat ons het.

“Die volgende dag lig Australië egter tydelik die beperkings vir ‘n tydperk van 72 uur, en mense kan weer vlieg, maar die probleem is dat die 72 uur die 24ste om middernag verval. Weereens is ons planne gedoem en ons probeer vrede maak daarmee dat ons tot die einde van Mei vasgekeer is.

“Tog bly ‘n klein bietjie hoop dat hulle wel weer ‘n vensterperiode sal oopmaak sodat ons kan vlieg. Ons maak die beste van ‘n slegte saak te midde van al die onsekerheid. Ons is in die huis gekluister aangesien Nieu Seeland ook nou in afsondering ingaan. Die lughawe in Auckland is gesluit.

“En daar besef ons finaal dat ons vasgekeer is, jaag winkels toe om ons laaste aankope te doen, want ons is te veel en daar is te min kos in die huis. Die volgende dag staan ons met ‘n swaar hart op. Dis 25 Maart, ‘n dag voor ons moet vlieg. Die agent sê ons moet kaartjies kanselleer anders gaan ons ons geld verloor, maar ons wil nie en klou nog aan die klein bietjie hoop vas.

“Die stilte in die huis sit ‘n groter demper op ons emosies en almal besluit ‘n middagslapie sal ons almal goed doen. Skaars 15 minute in die slapie in kry ons die nuus: die lughawe is oop tot Vrydag en Australië het oopgemaak vir transito-passasiers vir 24 uur.

“Almal juig van blydskap want ons kan huis toe gaan! Almal begin huil en gee mekaar drukkies. Die Here het ons gebede beantwoord! Nog nooit het ek (ons) so ‘n groot verligting, soveel geluk, en tog hartseer ervaar nie! Ons kan huis toe gaan.

“Maar tog los ons ons geliefdes agter, by wie ons moontlik tot einde Mei sou moes bly!”

Die nag van 26 Maart, toe Suid-Afrika se inperkings begin, land hulle op OR Tambo. Hulle ry almal deur na Liezel en Nicolaas se huis.Liezel se ouers moet nou, weens die inperkregulasies wat inter-provinsiale reise verbied, die volgende paar weke by hulle op die plaas bly tot die beperkings opgehef word.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version