Local NewsNews

Geen handsakke vlieg saam met dié ‘gamer’

Bykans elke sportbyeenkoms is reeds afgestel vanweë die pandemie, maar dit het heerlik lewe ingeblaas in die wêreld van aanlynspeletjies.

POLOKWANE – Aan die einde van Maart het Formula 1 aangekondig hulle gaan ‘n reeks virtuele Grand-Prix wedrenne aanbied om die grendeltydleemtes te vul.

Review het met Philip Buys, ‘n ervare en getroue E-speletjiespeler gaan gesels oor die lewe van ‘n ‘gamer’.

Philip het net na skool werk gekry as bestuurder by ‘n winkel waar elektroniese speletjies verkoop word.

“Een van my opdragte was om die speletjies te speel en te leer ken sodat ek kliënte kon help. Dit was ‘n droompos wat baie min betaal het. ‘n Paar jaar later het ek aanlyn begin speel, dit het beteken dat ek teen ander spelers van regoor die wêreld kon speel. Ek het dadelik van die speletjie Battlefield gehou. Ek het ook by ‘n ‘clan’ aangesluit. Dié, verduidelik hy, is soos ‘n span wat teen ander spanne speel en dit vorm die basis van kompeterende spel.

Na ‘n jaar begin Philip sy eie ‘clan’ en neem deel aan ‘n kompetisie met van die beste spanne in Suid-Afrika, waar hulle as wenners wegstap.

“Ek het ongeveer agt jaar gelede my eerste kompetisie gespeel en ek is trots om te sê ek speel nog volstoom voort. Dit was meestal verskeie Battlefield-titels maar ons het ook in ‘n stadium Fortnite op ‘n kompeterende vlak gespeel.”

Vir baie mense maak hierdie vorm van sport glad nie sin nie, maar Philip verduidelik dit is baie uitdagend om videospeletjies op ‘n mededingende vlak te speel.

“Die beste spelers is gewoonlik die ouens wat vinnige besluite kan neem en dit dan oor te sit in vinnige reaksies. Die meeste speletjies het ‘n baie sterk strategiese vlak. ‘n Mens moet die ‘oorlog’ kan lees en dan besluite neem ten opsigte van wat moontlik kan gebeur. Dit beteken dat ‘n mens blitsvinnig visuele en ouditiewe informasie moet verwerk om potensiële situasies te kan bepaal en sodoende strategiese besluite te neem.”

Een van die belangrikste dinge wat nodig is, is om ‘n goeie verhouding met jou spanmaats te hê en goeie kommunikasievermoë.

“As jy nie saam met jou span speel nie kan jy die oorsaak wees hoekom die span verloor. Dit verg baie selfdissipline.”

Soos met enige ander sportsoort is dit noodsaaklik om saam met jou span te oefen. Voor ‘n kompetisie, oefen Philip en sy span vir ure elke dag om hul strategie en spanwerk reg te kry.

“Daar gaan baie voorbereiding in om ‘n kompeterende span te bou en ‘n mens moet sekermaak almal bly gefokus. Ek vind ouens wat goed in ‘n span kan speel is belangriker as ouens wat baie goed is, maar nie altyd saam met die span werk nie. As ‘n spanleier is dit belangrik om ‘n meer waaghalsige speler saam met ‘n meer rustiger speler te sit, hulle komplementeer mekaar dan in ‘n kompetisie.”

Mind Sport South Africa (MSSA) is in beheer van E-sport in Suid-Afrika en reël gewoonlik een keer ‘n jaar ‘n kompetisie in Polokwane.

In Battlefield speel spelers vir ongeveer twee maande in een kompetisie waar hulle elke week wedstryde speel.

“Die beste en vinnigste manier om te groei in E-sport is om deel te word van ‘n ‘gaming’ gemeenskap. Daar is verskeie bladsye op Facebook waarby spelers kan aansluit, met verskeie keuses soos om by ‘n sosiale span of meer kompeterende span aan te sluit.”

Soos met ander spansporte is daar voordele aan om deel te wees van ‘n ‘clan’. Philip verduidelik hoe hy ware vriendskappe ontwikkel het en van sy beste vriende aanlyn ontmoet het.

“‘n Mens spandeer baie tyd saam aanlyn en praat gewoonlik dan ook oor alles wat in jou lewe aangaan. Baie van die ouens praat elke dag met mekaar, al is dit net op sosiale media.”

Behalwe vir vriendskappe verduidelik Philip die speel van hierdie speletjies help hom om sy stresvlakke te laat daal.

“Die kompetisies is verslawend veral as jou span goed vaar. Die uitdagendste ding van E-sport is om tyd te maak om saam met jou span te speel, veral voor kompetisies. Slegte internetkonneksies en beurtkrag kan dit egter baie frustrerend maak. Dit gebeur gereeld dat sekere ‘clans’ mekaar op ‘n persoonlike vlak aanval, ons noem dit ‘throwing handbags’.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button