Gemeenskap staan saam om misdaad to bekamp

Inwoners van die Edwel Buurtwag-gebied was keelvol vir diewe wat, gewoonlik oornag, hul afstand-beheerde hekke se batterye en of motors kom steel.

POLOKWANE – Van die 63 gevalle van misdaad en of voorvalle wat in Eduanpark en Welgelegen voorgekom het (die Edwel Buurtwaggebied) sedert begin Desember tot vroeg in Maart was die oorgrote meerderheid voorvalle (26) waar die hekmotor of die se battery gesteel is, of probeer is om die battery te steel. Die tendens het veral vanaf die begin van Februarie kop uitgesteek en met rasse skrede toegeneem.

Aan die begin van April is daar in die Edwel-gebied besluit om pro-aktief maar binne die perke van die wet en afgekondigde Regulasies self op te tree om hul eiendom te beskerm na die aankondiging van ‘n instruksie wat uitgereik is op 27 Maart deur die kantoor van die Adjunk Nasionale Kommissaris, Lt Genl Nhlanhla Sibusiso Mkhwanazi, dat gemeenskapspolisiëringsforums, buurtwagte en gemeenskapspolisiëringspatrollies nie essensiële dienste is nie en lede tuis moet bly tot nadat die inperkingsperiode verby is.

Die vraag is gevra dat, as inwoners nie hulself kan beskerm nie, wie dan moet? Daar was genoeg bewyse dat misdadigers elke nag in die buurt rondbeweeg. Daar is besluit om die mense vas te trek wat nie net steel nie, maar ook die inperkingsregulasies oortree. Niemand anders kan op die stadium patrolleer nie – en daar is besluit dat inwoners self sal moet inspring. Die presiese reëlings is tussen mekaar uitgesorteer, maar daar is op die groep gerapporteer as iets of iemand beweeg in die area, vir ondersteuning sou iets voorval.

Lede van die hele gemeenskap is gewerf om die oë en ore vir die gemeenskap te wees op ‘n straat-tot-straat basis, ter voorkoming van misdaad in die area, en ‘n plan is uitgewerk wat binne die perke van die wet asook regulasies is.

Dit het vrugte afgewerp en ‘n batterydief is op heterdaad betrap en in hegtenis geneem toe hy op 10 April ‘n hekbattery by Königstraat gesteel het.

Die batterye dien as ondersteuningstelsel vir wanneer die krag af is om te sorg dat die hekke wel nog kan oopkom met afstandbeheer.

Daar is op ‘n WhatsApp groep aan inwoners die redes vir die steel van motors en veral batterye verduidelik, en hoe die diewe dit doen.

• Dit wil voorkom die dief doen dit sonder om in die erf in te kom, as jou pallisade dit moontlik maak om arm deur te druk en tot by die battery te kom.

• Die boks word nie altyd gebreek nie en die dief het nie meer as 10 sekondes nodig om sy vuilwerk te doen nie.

• Batterye word moontlik aan ‘n herwinningsmaatskappy verkoop.

• Dit kan gebruik word saam met ‘n selfoon karlaaier om selfone te laai.

• Dit kan ook gebruik word saam met goedkoop LED-liggies om lig te verskaf.

• Met ‘n sonkragpaneel en ‘n paar (vier) van die batterye kan jy TV kyk of radio luister.

Opsies om diefstal te voorkom:

• ‘n Klamp wat pas om die boks, sluit toe met ‘n groot slot.

• Voorstelle is gemaak om die battery in die aand uit te haal of

• Vishoeke in die boks te plant of

• ‘n Alarm in die boks te sit.

Daar is geen kitsoplossing nie en inwoners is aangeraai om maar te luister as die honde blaf in die aand en te gaan kyk. Ander voorstelle is om sekuriteitsligte met sensors te installeer wat die hek en pad verlig as daar beweging is.

Nog ‘n inwoner het voorgestel dat ‘n alarm wat afgaan en klink soos ‘n gevaarlike hond se dreigende grom dalk net die ding is. Om ‘n behoorlike klamp te koop kos bykans R900. Die polisie asook drie sekuriteitsmaatskappye wat in die omtrek werk is ook gevra om te patrolleer en hul oë oop te hou vir verdagtes in die omgewing.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
Exit mobile version