Van Dyk egpaar ‘geskei’ weens inperktyd

Die pasgetroude van Dyk-egpaar, Meagan en Christiaan, se huwelik het glad nie begin met die wittebrood wat hulle in gedagte gehad het nie.

POLOKWANE – Slegs twee maande na die huweliksklokkies in Desember 2019 vir hulle gelui het, moes Meagan haar man tot siens soen vir wat sy gehoop het net ‘n kort rukkie sou wees, maar wat nou onbepaald is.

“Ons het reeds voor ons troue begin dink daaraan om na Nieu Seeland te emigreer. In Augustus 2019 maak ons die finale besluit en begin ons weg na Nieu-Seeland baan,” vertel Meagan.

Aan die einde van 2019, bedank die egpaar hulle onderskeie werke met die hoop dat hulle in Januarie saam kan toer en ‘n paar dae daar gebruik vir ‘n mini-wittebrood. Hulle sou ook dié tyd gebruik om alles reg te kry voor hulle aan die begin van Februarie sou begin werk.

Dinge het egter nie vir hulle uitgewerk nie. Hulle visum-aansoeke het lank geneem en Christiaan het steeds nie syne nie. Meagan het haar visum op 12 Februarie eers gekry.

Christiaan vertel die rede waarom die visums so lank geneem het, was omdat hulle drie keer moes aansoek doen vir polisieklaring. “Ons het reeds verlede jaar aansoek gedoen, maar daar was elke keer verskonings. Meagan het haar visum gekry, maar my inligting was verlore en so sit ons nou met die virus-pandemie en wag nogsteeds.”

Meagan het self ook probleme met haar visum gehad.

“Ek het die fout gemaak om my ID en paspoort sommer dadelik te verander na my getroude van. My visum was uitgereik op my nooiensvan, Opperman, terwyl my paspoort, my getroude van het. Dit het veroorsaak dat ek nie op die vliegtuig kon klim soos beplan nie.”

Meagan moes heraansoek doen vir ‘n nuwe visum en op 27 Februarie kry sy dit.

“Ek het so hard gebid dat Christiaan se visum die volgende week op die laatste moet kom sodat ons die ondervinding saam kan ervaar. Dit sou sy eerste internasionale vlug eers, maar ons het niks van die visum gehoor nie.”

Intussen het Meagan se werkgewer in Nieu-Seeland vir haar ‘n ultimatum gestel. Óf sy begin die volgende week werk, óf haar werk word vir iemand anders gegee.

“Ek het moed bymekaar geskraap en saam met Christiaan Johannesburg toe gery. Die pad daarheen was nie lank genoeg nie en op 4 Maart groet ek my man en klim vrou alleen op die vliegtuig na die mooie Nieu-Seeland. Dit was gelukkig nie my eerste internasionale vlug nie.”

Christiaan wag steeds vir sy visum en weens die Covid-19 uitbreking en die inperktyd, is hy steeds in Suid-Afrika. Nie een van die twee weet wanneer hulle weer saam met mekaar gaan wees nie.

Hy vertel dit is moeilik om so ver van sy vrou af te wees, maar hulle geloof is sterk en hy weet hulle sal anderkant uitkom.

“Ons maak die beste van die saak en bly positief, want om te kla of negatief te wees gaan nie help nie.”

Meagan stem saam en sê sy is dankbaar vir tegnologie.

“Party dae is alles reg en ander dae wil ek myself net jammer kry, onder ‘n kombers lê en die heeldag huil. Elke dag hoor ons van die gevalle wat net meer raak en sterftes wat ook meer raak met die wete dat hierdie isolasie tydperk met nog meer dae verleng kan word, en ons nog langer uitmekaar gaan wees. Gelukkig het ons hoop en geloof om aan vas te hou.

“Ons is altwee sterk mense met sterk persoonlikhede so vir so lank as wat ons nie bymekaar kan wees nie, probeer ons mekaar bemoedig deur SMS’e en WhatsApp video oproepe.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
Exit mobile version