Besem en braaitang haar wapenrusting toe slang verskyn

Christine de Lange het Sondag vrou- alleen 'n yslike wipneus kobra van oor 'n meter lank gevang

POLOKWANE – Chistine is nie ‘n vrou wat jy sonder handskoene aanpak nie!

Verlede Donderdag het haar man haar geroep toe hy die yslike slang by hul kombuisdeur gewaar het.

Sy was egter besig om te werk in haar kantoor by die huis, en teen die tyd dat sy by die kombuis aangekom het, was die slang al weg.

Sondag was sy besig om kos te maak toe sy haar honde hoor grom en blaf.

“Ek het dadelik besef iets is nie lekker nie en gaan kyk.

“Een van die honde was in ‘n blombedding naby die swembad, en die ander een het voor die bedding gestaan en knor.”

Christine het gedink dit kan dalk ‘n akkedis wees, want die twee hou daarvan om jag te maak op die gediertetjies, maar het tog gaan kyk wat aan die gang is.

Agter, teen die heining het sy toe die slang gewaar.

Gewapen met ‘n besem en ‘n braaitang wat sy in die lapa daar naby gekry het, het sy die slang met die besem uit sy skuiling gewoel en hom toe daarmee vasgedruk en agter die kop gevang met die braaitang.

“In die lapa was daar ‘n vistenk wat ons besig is om reg te maak om visse in te sit.

“Toe ek die slang gevang het, het ek hom daarin gesit!”

Sy weet goed dat dit ‘n hoogs giftige slang is, want sy het op ‘n plaas grootgeword en later het sy en haar man op ‘n kleinhoewe gewoon waar hulle ook met voëls geboer het.

Slange het dikwels probeer om klein voëljies of eiers te kom haal, en so het sy al menige slange gevang, die langste een was oor die drie meter lank!

“Toe ons dorp toe getrek het, het ‘n slang ook talle van ons klein budjies gevang, maar ons het later al die gate waar hy kon inkom, toegestop.

“Ons tuin is groot en boomryk,’n ideale plek vir voëls om te kom broei.

Hulle woon naby Oosskool en haar man wou eers die slang in die erf langsaan hulle, wat leeg staan, vrylaat, maar hulle het besef dat hy dan weer kon terugkom.

‘n Slangvanger, Kiewiet du Randt, het die slang toe kom haal en in die natuur vrygelaat.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
Exit mobile version