Vegter Xavier het jou hulp nodig

Xavier het ‘n gesplete lip en sy mediesefondsdekking is onvoldoende om al die afsprake en koste in en na Pretoria toe te dek en enige donasies sal opreg waardeer word

POLOKWANE – Nicole Brits en haar kêrel, Barry van Rooyen, het vroeg verlede jaar uitgevind dat Nicole swanger is en op ses maande, tydens ‘n 4D-skandering, vind hulle uit hul baba het ‘n gesplete lip.

Nicole vertel hulle kon nie daardie tyd sien of sy verhemelte ook geaffekteer is nie, maar het dadelik begin oplees oor babas met gesplete lip.

Hulle het besluit om hulle babaseun Xavier te noem en op 14 November, na slegs 38 weke word hy gebore, 3,3 kg swaar en 51 cm lank.

“Ons kon eers na sy geboorte sien sy verhemelte is ook gespleet, tot by sy klein tongetjie. My hart was baie seer en ons was ongelooflik bang vir die onbekende wat voorlê,” vertel Nicole.

Xavier was maar vier dae oud toe hy opgeneem is in die hospitaal vir geelsug. Nicole vertel daar was komplikasies toe die pypie wat as tydelike voedingsmeganisme gedien het, veroorsaak het dat die melk na sy longe gaan in plaas van na sy magie. Dit veroorsaak dan dat daar vog op sy longe is.

“Die pyp het direk deur sy neus in sy maag ingegaan vir sy voeding tot hy sy plaatjie kon kry. Hy was vir sewe dae in die intensiewesorgeenheid en daarna was hy net twee dae by die huis voor die melk weer in sy longe ingegaan en hy weereens vir twee weke in MediClinic Limpopo in die intensiewesorgeenheid opgeneem is. Hy is toe na Wilgers Hospitaal in Pretoria geskuif.”

Daar het Xavier nog twee weke in die intensiewesorgeenheid spandeer voor hy op een maand sy plaatjie gekry het. Dit is gedoen deur die Smile Foundation in Pretoria.

“Die plaatjie was darem nie vir hom ‘n irritasie nie en hy het goed aangepas. Die plaatjie is daar om die spleet toe te maak sodat die melk nie na sy longe toe gaan nie. Ons moet nou elke maand na Pretoria toe gaan sodat die plaatjie aangepas kan word soos die spleet verklein.”

Nicole verduidelik die maandelikse koste vir die afsprake beloop net oor die R2 000. Dit is nie die ekstra onkostes soos brandstof en tolhekgelde bygereken nie.

“Xavier was al vir vier afsprake gewees en in Januarie was hy by professor Kurt Bütow, wat babas met gesplete verhemeltes en lippe opereer, vir ‘n ondersoek. Tydens die ondersoek is die operasiedatums vasgestel. Sy eerste operasie sou op 14 April wees, maar is geskuif na 20 April as gevolg van die grendeltydperk.”

Nicole verduidelik tydens die eerste operasie word Xavier se kleintongetjie aan sy sagte verhemelte aan die agterkant van sy mond, geheg. Hy is doof in die linkeroor as gevolg van die spleet en hulle moet n pypie bou tussen sy oor en neus.

“Sy tweede operasie is tentatief op 1 Junie en tydens hierdie operasie heg hulle sy harde verhemelte en maak sy lip en neus reg.”

Afgesien van al die teenspoed is Xavier ‘n seëning vir sy familie. Sy oupa noem hom nie verniet Trompie nie, hy is immers ‘n regte vegter.

“Na elke operasie moet hy weer terug gaan na professor Bütow toe vir ‘n ondersoek asook maandeliks na die ortodontis, Dr. Emad Ghabrial in Pretoria. Hy gaan kyk dat Xavier se melktandjies mooi en op die regte plekke uit kom. Hy kry ook ‘n implantaat daar waar verhemelte geheg word en mag glad nie harde kos of lekkergoed eet tot hy 11 jaar oud is nie.

Xavier moet ook op nege maande na ‘n spraakterapeut toe gaan tot hy skool toe gaan vir sy spraak en sy gehoor.
Alhoewel daar mediesedekking vir Xavier uitgeneem is, dek dit nie al die afsprake en koste in en na Pretoria toe nie en onkostes beloop maar hoog. Daar is ‘n rekening vir Xavier gestig en enige donasies sal opreg waardeer word.
Bankbesonderhede:
Capitec Bank
Xavier Britz
Rekeningnommer: 1662162152
Spaarrekening.
maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
Exit mobile version