Local NewsNews

4 Polokwane inwoners gestrand in Egipte

Dié vier inwoners was deel van 'n toergroep wat Suid-Afrika op 13 Maart verlaat het

POLOKWANE – Wat ‘n droomvakansie moes wees het vir ses Suid-Afrikaners in ‘n nagmerrie ontaard.

Op Vrydag, 13 Maart verlaat die groep Suid-Afrika op ‘n toer waarvoor hulle hard gewerk het. Cathy van Heerden, een van die vriende, vertel:

“Ons het die toer as geskenk gekry by die werk vir ons harde werk. Dit sou net vir ‘n paar dae wees en ons sou op 21 Maart terug vlieg na Suid-Afrika. ‘n Paar dae voor ons sou terug vlieg, op 18 Maart het ons opgestaan met die wete dat alles nog in plek is vir ons terug vlug.

“Daardie middag kry ons die nuus dat alle EgyptAir vlugte gekanselleer is tot 2 April. Later is dit na 16 April verander en nou is daar geen spesifieke datum nie.”

Cathy vertel dat dit vir hulle ‘n slag was aangesien hulle kinders in Suid-Afrika agtergebly het.

Petrus en Magda is saam met Andries en Cathy van Heerden gestrand in Egipte. Foto: Verskaf.

“Ons is ses, Magda en Petrus Pretorius, ek en my man, Andries, Philip Jacobs en Melissa Schnettler. Ons het in ‘n hotel in Luxor, ongeveer 657 km van Kairo af, gebly waar ons ontbyt en aandete gekry het.

“Die Suid-Afrikaanse ambassade het vir ons gesê om so vinnig as moontlik na Kairo toe te reis.”

Die groep is nou in Kairo gestrand en Cathy vertel hulle betaal ten duurste vir verblyf.

“Ons verblyf per nag sonder etes beloop 120USD per kamer. Die supermark hier is ongelooflik duur, so op die oomblik lewe ons van so min as moontlik.

“Ons geliefdes in Suid-Afrika help ons finansieel maar ons het steeds hulp van die regering nodig.”

Die groep is in gereelde kontak met die ambassade en dié verklaar in ‘n boodskap aan hulle dat daar gereelde kontak tussen die twee lande is en hulle is besig om planne te maak om Suid-Afrikaners wat gestrand is in Egipte by te staan.

“Die ambassade het ons aangeraai om te bly waar ons is, waar ons veilig is. Hulle het ons ook aangeraai om ons reisversekering te gebruik en ook alternatiewe maniere van reis te ondersoek. Verkieslik as span saam.

“Daar was ook sprake om ‘n vlug na Suid-Afrika vir ons te reël en dan kan die vliegtuig weer Egiptenare wat in Suid-Afrika gestrand is terug bring na hulle land. Die vlug hang egter af van hoeveel Suid-Afrikaners in Egipte gestrand is.”

Intussen het die ambassade die groep laat weet sodra alle Suid-Afrikaners in Kairo is, sal daar ‘n vlug vir hulle beskikbaar wees.

“Daar word egter van ons verwag om vir ons kaartjies terug te betaal, aangesien dit nie ‘n normale geskeduleerde vlug is nie, maar ‘n spesiale vlug. Die van ons wat nie dadelik kan betaal nie, sal later moet betaal.”

Intussen bly die groep se kinders by hul ouers in Suid-Afrika en Cathy vertel die verlange is baie erg.

Die onsekerheid oor wat op hulle wag vreet aan hulle.

“Ons moet wag vir die regerings van beide lande om besluite te neem. Alles is uit ons hande.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

Related Articles

Back to top button