Local NewsNews

Aktiwiteite vir daardie besige bytjies tydens inperktyd

Review het by Jackie Smith, eienaar van Voetspoortjies Speelskool, gaan uitvind wat ouers kan doen om hulle kleuters besig te hou.

POLOKWANE – Waar meeste kleuters selfs tydens die skoolvakansies die geleentheid het om skool toe te gaan, moet hul ouers hulle nou tydens die inperktyd stimuleer en besig hou. Skielik sit ouers met hulle hande in hulle hare en weet hulle nie hoe om hierdie besige lyfie konstruktief besig te hou nie.

Review het by Jackie Smith, eienaar van Voetspoortjies Speelskool, gaan uitvind wat ouers kan doen om hulle kleuters besig te hou.

“Inperking beteken nie dat kinders nie buite kan speel nie. Kinders moet baie buite speel en bal-speletjies is belangrik vir hand-oog-koördinasie en balans. Gebruik verkieslik ‘n ronde bal en laat jou kind hom hop en vang of in die lug gooi en vang. Aangesien jou kind nog jonk is, gaan hy hom nie ver gooi of hoog laat hop nie.”

Sy verduidelik hoe ouers inisiatief kan neem deur byvoorbeeld ‘n atletiekbyeenkoms buite op die gras te hou en almal in die gesin te laat deelneem.

“Hier kan jou kleuter vorentoe en agtertoe loop en hardloop asook sywaarts loop. Om sywaarts te loop is ‘n voorloper vir gallop wat weer later belangrik in sy skoolloopbaan is. Laat hy eers regs sywaarts loop en daarna links, so stimuleer hy beide sy dominante sy asook sy nie-dominante sy.”

Nog aktiwiteite wat tydens die atletiekbyeenkoms kan plaasvind is eier-loop. Hier loop of hardloop die kleuter met ‘n gaar eier op ‘n lepel en aan die einde van die wedloop kan hulle die eiers afdop en eet.

“Indien jy nie ‘n hula-hoop het nie, kan jy enige iets soos ‘n tou, gebruik om ‘n vorm te maak. Hier kan jou kind in en uit spring of op die tou loop en sy balanseer-vaardighede verbeter. Aan die einde van die oefening, kan jou kinders toutrek.”

Deur ‘n bal tussen sy bene deur te rol, raak jou kind bewus van ruimte en waar hy in die ruimte is. Hy kan ook ‘n tennisbal of ‘n plastiekbal bo-op ‘n toiletrol balanseer.

“Kinders is vreeslik lief vir ‘n hindernisbaan. Hier kan jy enige iets gebruik solank jou kind kan oorklim, onderdeur kruip of selfs in ‘n slangetjie-vorm beweeg. Dit is goed as jy hierdie aktiwiteit oor ‘n paar dae kan behandel en eers aan jou kind verduidelik wat is onderdeur en bo-oor en dit daarna aan hom wys sodat hy dit self kan doen.”

Vir kuns kan hy ‘n hele paar diere maak. Sit die diere in die tuin, maak vir hom ‘n verkyker en gaan op ‘n safari. As hy een van die diere gekry het, kan hy geluide en bewegings van die dier maak.

Jou kleuter sal dit ook geniet om jou in die tuin te help. Gee vir hom ‘n besem of ‘n hark sodat hy die plaveisel kan vee en die blare te hark. So leer hy basiese lewensvaardighede.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

Related Articles

Back to top button