Local NewsNews

Inperking sorg vir kosbare familietyd

Review het met lesers gesels om te hoor wat hulle planne saam met hulle gesinne is vir die inperktyd.

POLOKWANE – Daar is min families wat vir langer as ‘n naweek vir 24-uur konstant in mekaar se geselskap en spasie is. Die ouers werk terwyl die kinders by die skool is en almal kom net saans vir ‘n paar uur bymekaar.

Selfs naweke is propvol aktiwiteite soos sport, inkopies doen en stokperdjies beoefen maar weens die nasionale inperking word families gedwing om bymekaar te wees. Die enigste manier om alleen tyd te bekom, is om jou in ‘n ander vertrek af te sonder of in die tuin te gaan sit.

Review het met lesers gesels om te hoor wat hulle planne saam met hulle gesinne is vir die inperktyd.

Marika O’Reilly: Ons het vooraf vir die kinders mooi verduidelik dat elkeen takies in die huis het. Bed opmaak, skottelgoedwasser pak, goed wat hulle verantwoordelikheid leer. Die laaste twee weke sal ons as gesin beslis meer van ‘n roetine toepas waarvan ons die kinders reeds ingelig het. Elkeen se takies gaan normaal voort en saam met dit gaan ons elke dag tenminste ‘n uur aan skoolwerk spandeer. Met ‘n gr. 1, gr. 2 en gr. 4-kind moet hulle maar elke dag bietjie iets inskerp soos spelling, wiskunde en lees. Ons het ook saam Bybelstudie waar ons om ‘n tafel sit en gesels. Ruben sal tennisballe slaan teen die muur, Lua oefen haar gimnastiek in die tuin op haar balk en Mia oefen haar akrobatiese oefeninge. Ons as gesin sal saam by die swembad kuier en braai. Verf en handvlyt en bak en brou is ook in die beplanning.
Danietha Pieterse: Ons gaan maar rustig saam kuier op die plaas. Lekker saam swem en speel, bietjie kuns goedjies doen en in die aande sterre kyk en om die kampvuur kuier. Ons beplan om saam te oefen elke oggend om gesonde lyfies te hou en dan saam ontbyt te maak. Ons het ook ‘n paar saam-bak resepte wat ons gaan bak en brou.
Aleshia Kellerman: Ons beplan om te gaan stap want ons bly buite die dorp. Ons het reeds ons bord en kaartspeletjies begin nader trek. Bal skop en oefen vir rugby asook veertjie-tennis en kroukie is gunstelinge vir buite speel. Ons gaan ook baie kunsprojekte aanpak en legkaart bou. Verder gaan ons gesonde koekies bak en verseker ook saam werk aan ons kliptuin. Ons gaan uiteindelik ons klein groentetuin weer aan die gang kry.
Chazelle Jacobs: Ons het besluit om glad nie elke dag in ons slaapklere rond te lê en die 21 dae om te wag nie. Elke dag doen ons die daaglikse huistakies en almal, ons twee dogters ook, moet help. Ons gaan as gesin saam in ons tuin oefen. Ek en my man sal natuurlik moeiliker oefeninge doen en die dogtertjies sal saam oefen of speel om ook aktief te bly en vars lug te kry. Ek het sakkies gepak vir elke dag vol kuns goed waaraan ons saam kan werk. Ek het ook vir my oudste wat in gr. R is ‘n klomp stimulerende aktiwiteite in wat ons ‘n paar keer ‘n week sal doen. Ons wil graag ons normale roetine met die kinders probeer behou. Na badtyd is dit aandete saam as gesin en voor slaaptyd, soos elke aand, Bybel lees en bid en gesels oor die dag of oor wat ons môre wil doen.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

Related Articles

Back to top button