Local NewsNews

Praktiese en kreatiewe idees om Paasfees tuis te vier

Ds. Tjaart Meyer van N.G Oos Gemeente deel ‘n paar wenke hoe ouers hul kinders besig kan hou en terselfde tyd hierdie spesiale oomblik kan vier.

POLOKWANE – Die president het onlangs die land tot stilstand gebring toe hy weens die Covid-19 pandemie inwoners beveel het om in hul huise te bly. Net nooddienste en besighede wat noodsaaklik is word toegelaat om te werk en dienste te lewer.
Met hierdie besluit deur die president kan Christene nie soos tradisioneel kerk toe gaan tydens Paasfees nie, en as gevolg hiervan deel Ds. Tjaart Meyer van N.G Oos Gemeente ‘n paar wenke hoe ouers hul kinders besig kan hou en terselfdertyd hierdie spesiale oomblik kan vier.

Meyer se praktiese en kreatiewe idees om Paasfees tuis te vier:

Kruise
Maak as gesin kruise (50 cm lank) uit harde karton. Maak die een kant van die kruis rooi en die ander wit. Plak of hang die kruis teen jou kamerdeur met die rooi kant na voor. Op 12 April (Paassondag) draai elkeen sy kruis om sodat die wit kant voor is. Die rooi simboliseer die offer aan die kruis en die wit simboliseer nuwe lewe. Gesels as gesin oor wat Jesus se opstanding vir elkeen beteken.

• Eiers
Alhoewel die simbool van die eier gewortel is in heidense vrugbaarheidsfeeste, het Christene eeue gelede reeds die eier aangeneem as ‘n simbool vir Paasfees. ‘n Eier is die simbool van nuwe lewe of nuwe begin. Neem hardgekookte eiers en laat jou kind/kinders dit versier. Steek die eiers in die huis of tuin weg en laat die kinders daarna soek. Verduidelik die simbool van die eier as nuwe lewe of ‘n nuwe begin. Die COVID-19 pandemie kan as ‘n geleentheid gebruik word om te vra hoe ons dalk anders kan lewe en wat ons anders moet doen om die lewe vir ander moontlik te maak.

• Maak vlinders van karton, papier of enige ander kreatiewe opsie
Die vlinder is ‘n simbool van Jesus se opstanding (George Ferguson in Signs and Symbols in Christian Art). ‘n Ruspe spin hom toe in ‘n kokon en ondergaan ‘n metamorfose (verandering). Hy word nou ‘n vlinder. Verduidelik vir jou kind dat God ons wil verander of transformeer om meer soos Hy te word. Lees 2 Korintiërs 3:18. Die Griekse woord vir “verander” is die woord “metamorfoo“. Dit het 2000 jaar gelede gebeur, maar dit gebeur eintlik elke dag. God wil my verander van ‘n nie-so-mooi-ruspe in ‘n pragtige vlinder!

• Harte
Maak hartjies en versier dit. Skrywe die teks Johannes 15:12-14 daarop en lees dit vir jou kinders. Harte is die simbool van liefde. Hang die hartjies in die woonkamer op.

• Maak ‘n groot wit kers saam met jou of julle kinders
Steek dit op Paassondag aan. Die lig herinner ons daaraan dat die duisternis die Lig nie kon uitdoof nie. Jesus is die lig vir die wêreld en ons is draers van sy lig. Gesels oor al die praktiese maniere hoe ons, ons wêreld lig kan leef, veral in tydens die COVID-9 pandemie en daarna.

• Ou botteltjies
Neem ou glasbotteltjies en versier dit met vlinders, harte en kruise of bind ‘n hart, kruis of vlinder met ‘n toutjie om die opening van die bottel vas. Gebruik dit om kryte, potlode, of penne in te bêre. Skrywe die teks 2 Korintiërs 5:17 daarop.

• Blokkiesraaisel
Ma en/of pa kan ‘n eenvoudige blokkiesraaisel oor Jesus se opstanding ontwerp vir hulle kinders om in te vul met leidrade uit die Bybel (gaan kyk by Markus 16:1-8, Lukas 24:1-12, 1 Korintiërs 15:3-8). Gaan kyk by Wikihow vir wenke: https://www.wikihow.com/Make-Crossword-Puzzles

• Inkleurprente
Google “crucifixion and resurrection of Jesus coloring pages” of “coloring pages of Jesus resurrection.” Daar is inkleurprente wat julle kan uitdruk. Links-kliek op die prent waarvan jou kinders hou – ‘n groter weergawe van die prent sal aan die regterkant van die skerm verskyn. Regs-kliek en kies opsie “Print picture.” Jou drukker behoort ‘n opsie te hê wat sê: “Fit to page” – kies die opsie, dan is die prent lekker groot. Vertel vir jou kinders die verhaal van Jesus se opstanding.

• Lees op Paassondag (12 April)
Lees Markus 16:1-6 as ‘n gesin saam. Die Boodskap of Nuwe Testament vir kinders is beide goeie opsies as die kinders nog klein is. As julle ‘n klok of klokke in die huis het (Potte met lepels kan ook werk), kan julle, nadat julle die teksdeel gelees het, buite toe gaan en dit lui (09:00 is ‘n goeie tyd omdat dit die tyd is wat baie eredienste sou plaasvind. Verseker sal die bure ook nie ‘n vroegoggend klokuitvoering baie geniet nie!). Daar is ‘n Paas-tradisie waar klokke wat beier beteken: Die Heer het opgestaan. Die Heer het waarlik opgestaan! Eet later as gesin saam aan tafel.
cheryllee@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button