Slangvanger deel raad nadat inwoner gebyt word

Jaco raai lesers aan om nie tuinvullis soos boomtakke en ook ongebruikte boumateriaal te laat rondlê nie

POLOKWANE – Christelle Swanepoel is op Maandag, 30 Maart by haar huis deur ‘n Mosambiekse spoegkobra gebyt. Review het na die insident vir ‘n plaaslike slangvanger, Jaco van Zyl gekontak. Jaco is as ‘n noodambulansassistent geregistreer en vang ook probleemslange in die stad. Hy het opleiding ontvang by Johan Marais van African Snakebite Institute.

“Nie alle slange is giftig nie, maar in Limpopo is daar wel ‘n paar giftige slange. Alle giftige slange het ook nie dieselfde gif nie.”
Hy verduidelik slange word in drie klasse opgedeel. Daar is die sitotoksiese slange soos die pofadder en Mosambiekse spoegkobra, die neurotoksiese slange soos die swart mamba en ander kobra spesies en die hemotoksiese slang soos die boomslang en takslang wat ook voëlslang genoem word.

“Die sitotoksiese slange se gif val die weefsel aan en veroorsaak nekrose. Na die byt sal daar onmiddellik ‘n brandpyn wees asook erge plaaslike swelling. Die neurotoksiese slange veroorsaak pyn op byt plek met geen of minimale swelling. Die pasiënt ervaar lomerigheid, naarheid en braking, dubbelsig en die pasiënt het moeite om te sluk en om asem te haal. Die hemotoksiese slange het min of geen swelling wat gevolg word deur bloeding uit die bytplek. Die pasiënt sal ook hoofpyn hê, verward voel en naarheid en braking ervaar. Tussen 12 en 36 uur na die byt sal daar erge inwendige bloeding wees.”

Hy verduidelik ‘n spoegkobra spoeg of eerder spuit sy gif gewoonlik na die ‘vyand’ se oë toe. Dit is slegs ‘n waarskuwing en gee die slang kans om weg te kom. Die oë moet voorturend met skoon water uitgespoel word en ‘n geneesheer moet geraadpleeg word.

Jaco raai lesers aan om nie tuinvullis soos boomtakke en ook ongebruikte boumateriaal te laat rondlê nie, aangesien dit die ideale plek is waar slange hulle tuismaak. As daar baie rotte, muise en paddas in die area is gaan dit slange lok want dit is wat hulle eet.

“Wanneer jy ‘n slang in of om die huis sien hou ‘n afstand van so 2,5 meter weg van die slang af en moet nie vinnige bewegings maak nie. Bel ‘n slangvanger om die slang te kom verwyder, hulle het die regte toerusting om dit te doen. Moenie probeer om self te vang nie, dis ook hoekom mense gebyt word.”
maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
Exit mobile version