Super Snuiter Saterdag vir Vories

Dié opdrag het behels dat elke Voortrekker en sy gesin ‘n skuiling in hulle agterplaas moes bou.

POLOKWANE – Een van die eienskappe van die Voortrekker-gemeenskap is spanwerk, maar as jou land onder inperking gebuk gaan, maak hulle ander planne om besig te bly.
Voortrekkers Nasionaal het ‘n uitdaging aan al die kommando’s reg oor Suid-Afrika gestel genaamd Super Snuiter Saterdag. Dié opdrag het Saterdag, 28 Maart plaasvind en behels dat elke Voortrekker en sy gesin ‘n skuiling in hulle agterplaas moes bou.

Om die skuiling te bou kon hulle elke moontlik objek wat hulle in die hande kon kry, gebruik.
“Die Voortrekkers moes kreatief wees met wat hulle by die huis het om die skuiling te bou. Hulle het letterlik van besemstokke en komberse tot stoke, takke en wol gebruik,” vertel Venita Olivier, offisier van Doornkraal Voortrekkers.

Elke Voortrekker moes, na sy skuiling gebou is, die res van sy familie nooi om by hom te kom kuier en hulle kon ook, sou hul ouers en die omgewing se veiligheid dit toelaat, die nag in hul skuiling deurbring.

“Die kinders het dit vreeslik geniet en kon hulle kennis met knoopwerk toepas. Dit het gesinne saam gebring in die tyd van isolasie. Een van ons Voortrekkers het besluit om eerder haar skuiling binne in haar ma se sitkamer te bou.”

Dinita Olivier, een van die Voortrekkers, vertel hoe lekker dit vir haar was dat almal op die ou einde saam ‘n skuiling gebou het, al was dit by hulle huise. “Ons het dit op sosiale media gedeel. Dit was ‘n heerlike tydjie en het my uit my kamer gekry.”

Behalwe vir hierdie uitdaging het die Voortrekkers ook ander voorstelle aan ouers deurgegee, soos om saam te lees, poppekas te hou met poppe wat uit rommel gemaak is, en selfs legkaarte te bou.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
Exit mobile version