Local NewsNews

BREAKING NEWS – TLU SA stuur veldtog oor opgeblaasde eiendomswaardes van stapel

TLU SA het gister (Dinsdag) ‘n veldtog van stapel gestuur om kapsie te maak teen opgeblaasde eiendomswaardasies. TLU SA sê in ‘n persvrystelling dat munisipaliteite regoor die land in die proses is om eiendomme te inspekteer vir algemene of aanvullende waardasierolle. Die waarde van die eiendom bepaal ook die tarief wat op dienste en belasting …

TLU SA het gister (Dinsdag) ‘n veldtog van stapel gestuur om kapsie te maak teen opgeblaasde eiendomswaardasies.
TLU SA sê in ‘n persvrystelling dat munisipaliteite regoor die land in die proses is om eiendomme te inspekteer vir algemene of aanvullende waardasierolle. Die waarde van die eiendom bepaal ook die tarief wat op dienste en belasting vir die eiendom gehef word. “Ons het uit verskeie oorde verneem dat die waardasies van eiendomme op sekere plekke, veral in die landbousektor, onredelik en uitermatig verhoog word,” sê Louis Meintjes, president van TLU SA. “Met hierdie veldtog moedig ons alle grondeiendaars aan om beswaar aan te teken teen opgeblaasde eiendomswaardasies,” verduidelik Meintjes en voeg by dat TLU SA grondeienaars kan bystaan om waardasies na te gaan en beswaar te maak teen onakkurate waardasierolle.
“Dit is veral tydens die 21 dae van inperking belangrik dat mense steeds hierop ag slaan aangesien daar nie duidelikheid is of die tydperk vir appèl verleng sal word nie,” sê Meintjes.
Volgens Meintjes is ‘n verdere doelwit van dié veldtog om inligting te versamel oor buitensporige verhogings om sodoende moontlike tendense op te spoor. TLU SA sal dan die onderskeie LUR’e vir Plaaslike Regering ingevolge artikel 81 van die Munisipale Eiendomsbelastingwet aanmoedig om in hierdie gevalle in te gryp.
“Akkurate eiendomswaardasies is belangrik omdat buitensporige verhogings lei tot verhoogde grondbelasting, wat ‘n bykomende las op eienaars plaas. Dit terwyl grondeienaars in die landelike gebiede geen of min dienste van disfunksionele munisipaliteite of rade ontvang,” meen TLU SA.

Storie: Barry Viljoen

Related Articles

Back to top button