COVID-19 beroof duisende kinders van voedsel

Terwyl ouers planne beraam om te verseker dat hul kinders se skoolwerk nie agterraak tydens die verlengde skoolvakansie nie, is daar duisende kinders wat nou ook hul enigste daaglikse bron van voedsel moet ontbeer weens die Covid-19-virus. Luidens ‘n mediavrystelling van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) hoofkantoor, het President Ramaphosa se aankondiging dat skole en kleuterskole …

Terwyl ouers planne beraam om te verseker dat hul kinders se skoolwerk nie agterraak tydens die verlengde skoolvakansie nie, is daar duisende kinders wat nou ook hul enigste daaglikse bron van voedsel moet ontbeer weens die Covid-19-virus.
Luidens ‘n mediavrystelling van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) hoofkantoor, het President Ramaphosa se aankondiging dat skole en kleuterskole tot na die Paasreses gesluit word, ‘n nuwe uitdaging geskep. “Hierdie besluit, hoewel dit geregverdig is, het ‘n krisis geskep vir baie kinders wat afhanklik is van die kos wat hulle by die skool ontvang. Benewens die feit dat hulle nie tuis eet nie, het die meerderheid van hierdie kinders bedags geen toesig nie en woon hulle in digbevolkte lewensomstandighede, dikwels met tussen agt en nege mense in ‘n huis,” sê die SAVF.
Volgens die SAVF is isolasie nie die veiligste opsie vir dié in armer gemeenskappe nie. Die SAVF bestuur 31 sentrums vir kleuters in van die armste gemeenskappe in die land, wat ‘n toevlugsoord bied vir meer as 5 000 kinders.
“Die verlengde vakansie plaas geweldige druk op huishoudings,” sê Lizelle Minnaar, bestuurder van SAVF Teletubbies-sentrum in Pretoria-Noord. “Die prys van medisyne en basiese sanitasieprodukte het geweldig toegeneem – in sommige gevalle selfs verdubbel sedert die begin van die jaar. Dit maak dit basies onmoontlik vir ouers om hierdie kinders in ‘n virus-bestande omgewing te hê en daarom fokus ons daarop om hul immuunstelsel te versterk met gesonde kos en vitamiene.
Die SAVF gaan die kinders, sowel as hul gesinne, van kospakkies voorsien om hulle te help om deur die verlengde vakansie te kom. Met die winter om die draai het ons warm klere en selfs komberse nodig, amper net soveel as wat ons kruideniersware en vitamiene nodig het,” meen Minnaar en voeg by dat dit egter nie net kleuters is wat swaarkry nie, maar ook leerders wat kos ontvang danksy die Departement van Basiese Onderwys se voedingsprojek.
Om betrokke te raak of klere, kos of vitamiene te skenk, kontak die SAVF-nasionale kantoor in Pretoria by 012 325 3920. Op eie bodem het die Bestuurder van die SAVF Martha Hofmeyr Behuisingsentrum, Marieta van Rensburg aangedui dat dié sentrum daagliks met die owerhede skakel en inwoners inlig oor die situasie met Covid-19. Ons verskaf handskoene en ontsmettingsmiddel by al die sentrum se ingange en ons sekuriteitspersoneel verseker dat almal dit gebruik. Maskers is op bestelling en die voorraad wat ons het, word tans net aan persone wat hoes, uitgereik.” sê Van Rensburg.

Story: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Exit mobile version