3 verdagtes reeds vasgetrek nadat bejaarde-egpaar op plaas aangeval word

Die soektog na die ander verdagtes duur voort.

LIMPOPO – ‘n Bejaarde man (79) is dood en sy eggenoot beseer na ‘n plaasaanval buite Mookgophong. Die gemeenskap is geskok nadat Aalwyn en René van Zyl omstreeks 01:15 vanoggend in hulle huis op die Bad Se Loop plaas, tussen Mookgophong en Modimolle, aangeval is.

Sowat ses verdagtes het toegang tot die huis gekry deur ‘n venster in die solder wat hoog teen die dakkappe sit. Floris Booysen, Voorsitter van die Potgietersrus Distrik Landbou-Unie, sê dat die huis redelik oud is en glo in die laat 1800’s gebou is.  Die bejaardes is in afsonderlike vertrekke vasgebind. René kon haar loswikkel en hulp gaan soek by die wonings van die arbeiders, maar Aalwyn was nie so gelukkig nie en is na bewering verwurg.

Volgens Polisie Woordvoerder, Kol Moatshe Ngoepe, is ‘n aantal waardevolle items wat selfone insluit gesteel voordat die verdagtes die toneel gevlug het.

Danksy verskeie rolspelende organisasies en gemeenskapslede se hulp is drie verdagtes, tussen die ouderdom van 26 en 34, reeds vasgetrek. Die verdagtes sal binnekort in die Naboomspruit Landdroshof verskyn en die soektog na die ander verdagtes duur voort.

Die Provinsiale Polisie Kommissaris, Lt Gen Nneke Ledwaba het die polisie in Mookgophong bedank vir hulle spoedige optrede.

bosnews@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
Exit mobile version