Ouma Ilze deel haar kosgeheime eersdaags op die kassie

Tannie Ilze Meyer is nie net predikantsvrou met raakvathande en ‘n omgeehart nie, sy is ook ‘n ma en ouma, en binnekort dalk ook ‘n televisiester.

POLOKWANE – “Ek plaas dikwels foto’s van die kos wat ek maak op sosiale media. “Op ‘n dag het iemand my gekontak en gesê die kos lyk al te lekker. Sy vra toe of sy ‘n regisseur van ‘n TV-program, Ouma se Raad, kan vra om my te kontak in verband met die program.” Kort hierna het ‘n man haar gekontak en gevra of sy op die program sal verskyn.

“Ek het ingestem – solank dit geen soort van kompetisie sou wees nie, of iets wat ek in 20 sekondes moet aframmel met ‘n klomp bestanddele waarvan ek iets moes optower nie. Ek kyk glad nie eers na sulke programme nie, want ek hou niks daarvan nie.” Ouma se Raad word in Swartruggens opgeneem, maar kykers gaan moet wag om te sien op watter kanaal dit uitgesaai gaan word.

Volgens die Facebookblad gaan daar 13 episodes van 24 minute elk wees. Die program handel oor boererate, vergete resepte en bygelowe.

Die aanbieder gaan lê besoek af by ‘n ouma en sy deel haar kennis met die aanbieder en die kykers. Die twee maak dan een van die betrokke program se ouma se bekendste disse.

“Ek moes net met die aanbieder gesels oor dinge wat ek van my eie oumas se tyd kon onthou en ‘n outydse dis voorberei met my eie stempel. Dit moes ook iets gewees het wat iemand wat glad nie graag kos maak nie, na kon kyk en dink ‘ek sal dit ook kan maak’”. Oor die opneem van die program vertel Ilze watter plesier dit was. “Dit was ‘n vreeslike lekker ervaring vir my en ek beskou dit as ‘n voorreg om deel daarvan te wees.”

Ilze is ‘n trotse ouma van ‘n pragtige kleinseun van twee-en-’n-half-jaar oud. Sy is ook sy dagmoeder al sedert hy vier maande oud is.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version