Wian is ‘n klein bondeltjie met groot gif

Die nege-jarige skopbokser is in 2019 as mees lojale en toegewyde atleet van die jaar aangewys

POLOKWANE – Wian Deysel is slegs nege jaar oud maar laat hom nie terug hou as dit kom by gevegkuns nie. Hy is deel van die Limpopo Sport Kickboxing Academy.

Hy oefen reeds vir vier jaar skopboks omdat hy by die skool geboelie is. “Ek het besluit ek kan nie so aangaan nie en toe ek die kans kry om die sportsoort te kan doen, het ek dadelik met skopboks asook ander gevegkuns sportsoorte begin om nie net my selfvertroue te bevorder nie maar ook om my te help in ‘n slegte situasie,” vertel Wian.

Hy vertel dat hy nie hou van baklei nie maar sy man kan staan wanneer dit nodig is.

“Ek sal die sportsoort aanbeveel vir enige iemand wat wil leer hoe om hulself te verdedig. Skopboks is ‘n sportsoort waarvoor ‘n mens baie lief kan word en dit hou jou ook fiks,” vertel hy.

Buiten vir skopboks hou hy ook van spel-kompetisies. Hy beskryf homself as ‘n vriendelike mens wat daarvan hou om mense te help. Wian het al oor die 50 medaljes asook talle sertifikate en trofeë ingeryg. Hy sal graag na skool wil aangaan met die sportsoort en oefen so gereeld as wat hy kan.

Hy oefen nie slegs by die klub nie maar ook by die huis, veral voor kompetisies, sodat hy elke beweging kan bemeester.

In 2019 is hy ook bekroon by die skopboks as mees lojale en toegewyde atleet van die jaar.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version