Resep vir liefde-sukses ongeag ouderdomsverskil

Die paartjie verskil 28 jaar en is reeds meer as 18 jaar getroud.

POLOKWANE – Dick Rupping het reeds sy skoolloopbaan voltooi en ‘n paar jaar se werk agter die rug toe hy sy vrou, Belinda, ontmoet. Dié was toe skaars 20 jaar oud en sy kollega.

“Ons het saam gewerk toe Dick deur ‘n moeilike tyd gaan en ek aan hom ‘n vertroostende skouer verleen. Ons het mekaar beter leer ken en ‘n jaar later is ons getroud. Ek onthou, met die wat ek nog minderjarig was, moes my pa toestemming vorms teken. Aanvanklik wou hy nie byt aan ons verhouding nie maar teen die tyd wat hy moes teken, het hy my met ‘n geruste hart oorgegee,” vertel Belinda waar sy met ‘n koppie warm koffie sit en gesels.

Die paartjie se kinders, Erika en Derick, het gesorg dat daar vir haar ‘n koppie koffie wag toe sy na werk by die huis instap. Dick s’n wag ook vir hom toe hy ‘n paar minute later instap.

“Ons verskil 28 jaar en in November was ons 18 jaar getroud. Derick was ‘n wittebrood-baba en 10 jaar later het Erika gevolg.”

Op die vraag oor hulle sukses-resep antwoord hulle eenparig; kommunikasie is die belangrikste bestanddeel. “Ons baklei nie voor die kinders nie en as ons wel oor iets verskil, praat ons dit uit,” verduidelik Dick.

Belinda vertel laggend hoe hulle oor alles dieselfde voel en dink maar as hulle wel die dag verskil, verskil hulle ordentlik.

“Ons doen alles saam en ons lewens draai om ons kinders. Hulle aktiwiteite hou ons baie besig. In ons amper 19-jaar se getroude lewe was ons nog net een maal alleen en dit was met ons 17de huweliksherdenking. Ons gaan nie alleen na funksies toe nie. As ons metgesel of kinders nie kan saam gaan nie, gaan ons nie,” verduidelik Belinda.

Dick voeg by dat hulle wel alleentyd kry, soos wanneer hulle die kinders gaan haal by hulle onderskeie aktiwiteite. “Eerlikheid is baie belangrik en om saam te stem oor dinge. Dit wat ons vir mekaar vra, doen ons. Ons sit ook nooit vas oor ons ouerlike pligte nie en help mekaar met liefde. Belinda is in beheer van ons finansies en ons neem al ons besluite saam. Die een is nie die baas en die ander een klaas nie. Ons is een.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version