Lewe saam bou gaan oor mekaar aanvul vir die Malan egpaar

Min het Illze Malan geweet dat ‘n boodskap in haar dagboek sou lei tot die liefde van haar lewe.

POLOKWANE – Sy het net teruggekeer van ‘n toer in Engeland en het by mense wat sy ken gaan bly in Mookgophong.

Hier het sy begin werk en gereeld by ‘n haarsalon in die area gaan inloer. Dis by dié haarsalon waar sy haar nou skoonma ontmoet het.

“Sy het my vertel van haar seun, Hendrik wat alleen is en wat iemand in sy lewe wil hê. Agterna het ek gehoor sy het vir hom ook vertel van my. Soos die noodlot dit wou hê, het ons twee ‘n vriend ingemeen wat hom glo ook van my vertel het, en dis toe dat hy besluit het dat hy my moet ontmoet.”

Hendrik het toe besluit om die nommer op te spoor van die plek waar sy werk, maar sy was nie beskikbaar toe hy bel nie. Hy het toe ‘n boodskap gelos vir haar om hom te bel.

“Ek het gedink dis ‘n kliënt wat ek moes bel, min het ek geweet dat dit my toekomstige man aan die anderkant van die lyn is, en die res is geskiedenis,” vertel sy.

Die paartjie is 11 jaar getroud en hulle sê geduld, liefde en respek vir mekaar is wat hulle geheim is tot ‘n suksesvolle huwelik.

Illze en Hendrik sê dit is ook baie belangrik dat paartjies tyd maak vir mekaar, dinge saam doen en saam goed beplan.

Hulle is altwee onderwysers by ‘n plaaslike skool en volgens Hendrik pla dit hulle nie dat hulle mekaar so baie sien nie, want hulle vat af en toe ‘n breuk van mekaar wanneer hulle alleen tyd spandeer.

“Ek is lief vir jag en gholf en my vrou geniet dit om te lees. Dit is wat ons doen vir ons alleentyd. Ons het twee seuns en dis vir my lekker om met die seuns tyd te spandeer. En wanneer ons manne bymekaar is, dan is Illze se tyd regtig haar eie tyd, en die dag as ek op my eie is dan is sy daar om hulle te vat,”verduidelik hy.

Illze sê haar geheim tot sukses in hul huwelik is verdraagsaamheid en baie liefde. Hendrik voel dat dit belangrik is dat die Here elke tree van die huwelik of verhouding saam moet stap.

Illze is mal oor die feit dat Hendrik altyd verskriklik eerlik is en dat hy nie voorgee nie, maar sy sou glad nie van die gesnork as hy slaap nie. “Hy snork soos ‘n masjien,” lag sy.

Vir Hendrik is Illze se sterkste punt dat sy ongelooflik positief is en altyd entoesiasties is. “My mond hang oop en as ek net begin dink aan iets negatief is sy klaar besig om vir my die positiewe kant te wys, dan verander sy my hele gesindheid en maak my ook sommer positief,” vertel hy.

Een van Hendrik se minder gunsteling eienskappe van Illze is dat sy appelstronke oral los. “Ek voel regtig mens kan dit maar weggooi, sommer by die venster uit want dit is natuurlik,” spot hy.

Illze se raad vir mense wat getroud is en saam werk is om jou huislewe en werk te skei en nooit vuilwasgoed in die publiek te was nie. “Niemand gaan die hele tyd verlief wees en mooi met mekaar praat nie, maar dit moet nooit in die publiek gedoen word of jou werk beïnvloed nie. Jy moet opreg lief wees vir jou lewensmaat anders is dit maar moeilik,” vertel sy.

Hendrik se raad is om nie iemand te probeer verander in die huwelik nie. “Mense verander met tyd en as gevolg van omstandighede, nie omdat iemand anders hulle probeer verander nie,”

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version