Local NewsNews

Angelique toor met ‘n hekelpen

Sy hekel tans beertjies vir the Heart-Drive/Heart-Cycle projek wat minderbevoorregtes versorg.

POLOKWANE – Met haar honde, Bella en Coco, en die papegaai as geselskap, sit Angelique Bekker heerlik op haar bank en hekel. Met elke steek gaan daar ‘n stukkie liefde in die item in wat sy maak.

“Ek het as jong kind geleer hoe om te hekel en vind dit is vinniger as naaldwerk doen en brei, alhoewel ek dit ook kan doen. Ek is deel van die Anja Trooskombers-projek waar ons blokkies hekel en dit dan in trooskomberse opwerk wat aan mense gegee word wat persone aan die dood afgestaan het. My familie vra gereeld ek moet items maak vir geskenke vir swanger mamma’s en babas.”

Sy vertel hoe sy haar eerste kombers gehekel het vir haar sussie se kleinkind wat ‘n paar dae voor haar sussie se dood, gebore is. Sy het haar as haar eie kleinkind geneem. Sy help vir Nerine Lloyd-Townsend om hekelpatrone te toets en verduidelik hoe sy ‘n Yoda-pop gebrei het.

“Dit was die moeilikste item wat ek al ooit gebrei het. ‘n Mens moet definitief kennis van hekel hĂȘ. Al hekel ‘n mens van dieselfde patroon af, lyk die item nie noodwendig dieselfde nie. Ek is steeds altyd baie opgewonde wanneer ek iets klaar gehekel het en vat dit altyd vir my man en seun om te kyk. Hulle reaksie is gewoonlik ‘n aanduiding van hoe goed die item lyk. Dis darem gewoonlik goeie reaksies.”

Angelique is ook nou besig om voorraad bymekaar te maak vir die Fiber Fanatix! Fiber Arts Festival wat aan die einde van Maart plaasvind. Sy hekel ook beertjies vir the Heart-Drive/Heart-Cycle projek wat minderbevoorregtes versorg.

“As ek raad aan ander mense moet gee, sal dit wees om net te begin hekel. Ek kry baie hulp en raad van Facebookgroepe en ook YouTube-videos af. Daar is baie patrone en stap-vir-stap videos en ook mense wat jou sal help met raad. Die hekel gemeenskap hou van help en hekel is vreeslik terapeuties.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button