Totsiens Mnr. Holtzhausen

Soms is 'n paar woorde om jou mentor, vriend en skoolhoof te beskryf net te min en is paragrawe beter om te gebruik.

POLOKWANE – Een enkele woord kan nie altyd weergee wat jy wil sê oor iemand soos Piet Holtzhausen, pas afgetrede skoolhoof van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé.

Sportorganiseerder Kobus de Meyer vertel: “Meneer Holla, of oom Piet soos ek hom leer ken het, was nie net ‘n hoof vir my nie, maar ook ‘n vriend en ‘n pa. Ek ken hom al 30 jaar lank en is bevriend met sy seun vandat ons vyf jaar oud was. Ek het by hom geleer om altyd vriendelik te wees en jou passie uit te leef. Hy is ‘n groot sportliefhebber en sy passie en liefde vir sport kan mens sien langs die baan en veld, soms is daar te veel passie. Hy is altyd kompeterend en ek gaan verseker die Vrydag gholf ‘special’ by Polokwane Gholfbaan mis waar ons gereeld dit uitgespook het om te bepaal wie die beste gholfspeler was. Hy sal altyd ‘n legende wees en bly. Ons gaan hom mis as ‘n hoof maar weet verseker dat ons hom gereeld langs die sportvelde gaan sien.”

 

Hanri Love het vir 34 jaar saam met Piet skoolgehou en vertel hoe hy haar beïndruk het met sy liefde vir sy vrou, Ansie, kinders en kleinkinders. “Oor die jare het ek opgemerk dat hy op ‘n ernstige geestelike lewensreis is wat ons as Tommies gerus stel, want ons weet sy hart en siel is op die regte pad.”

 

Musawenkosi Mathaba vertel die woord wat haar hoof die beste beskryf is “borrelend”, maar ook “barmhartig en reguit”. Volgens haar is hy altyd gelukkig en opgeruimd.

 

Elissa Pienaar vertel meneer is ‘n asemrowende meneer met ‘n baie goeie hart wat altyd omgee.

 

Chanellé Nieuwenhuys sê sy dink meneer Holla is ‘n hardwerkende persoon. “Hy het my geleer hoe om hard te werk en om suksesvol te wees. Hy is ‘n goeie voorbeeld vir ‘n hoof.”

 

J.C. Holtzhausen skryf die volgende brief aan Piet: “My oom Piet is die beste oom ooit. Hy was altyd by my as ek sport oefen of wedstryde speel en hy is ‘n baie liefdevolle oom. Ek het altyd deurmekaar geraak en hom sommer oupa genoem, want hy gee baie om vir mense, vir die skool, sy familie en ook vir my. Ek het ook gehoop hy bly nog langer hier as hoof sodat die skool moet verbeter want hy is ‘n wonderlike hoof.”
Japie van Staden glimlag en sê: “Die hoof is beter as ‘n skaaptjoppie.”

Vir meer boodskappe van leerders en onderwysers, hou die Review dop.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version