Veediefstal daal landswyd gedurende feesseisoen

Alhoewel die provinsiale polisie nie ‘n aanduiding kon gee van die styging of daling in veediefstalgetalle in Limpopo gedurende die feesseisoen nie, blyk dit dat daar nasionaal ‘n afname in dié misdaad voorkom. Die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum het in ‘n onlangse persverklaring te kenne gegee dat daar oor die afgelope jare ‘n toename in veediefstal …

Alhoewel die provinsiale polisie nie ‘n aanduiding kon gee van die styging of daling in veediefstalgetalle in Limpopo gedurende die feesseisoen nie, blyk dit dat daar nasionaal ‘n afname in dié misdaad voorkom.
Die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum het in ‘n onlangse persverklaring te kenne gegee dat daar oor die afgelope jare ‘n toename in veediefstal oor die feesseisoen en die somer plantseisoen was.
Volgens die forum se voorsitter, Willie Clack, dra verskeie faktore by tot die toename in veediefstal soos die betaling van bonusse, die hoeveelheid geld wat beskikbaar is om vleis- en vleisprodukte te koop en kulturele gewoontes van die Suid-Afrikaanse bevolking soos huwelike en rituele. In kort word ‘n baie goeie mark geskep waar gesteelde vee aan onskuldige mense verkoop kan word, volgens Clack.
Die forum is volgens Clack deur verskeie provinsies ingelig rakende die aantal veediefstalsake oor die 2019/2020 feesseisoen. “Die verstommende bevindinge wat bevestig is deur bronne van die polisie is dat veediefstalsake ‘n aansienlike daling toon teenoor die vorige jare. Amptelike statistieke is nog nie beskikbaar nie en die werklike syfers kan dus nie bekend gemaak word nie, maar die daling in veediefstalsake is beduidend,” word Clack aangehaal.
Die daling kan toegeskryf word aan ‘n verskeidenheid veranderlikes:
– Provinsies wat oor die algemeen hoë veediefstalle ondervind oor die feesseisoen het verskeie spesiale operasies geloods wat bygedra het tot die daling in misdaad en die suksesse hiervan is duidelik waarneembaar;
– Die huidige verbod op lewendehawe veilings het die winsgewende omgewing waarbinne kriminele van gesteelde vee kon ontslae raak, ingeperk. Dit sal egter nie lank duur voordat die kriminele elemente van alternatiewe begin gebruik maak nie;
– Die beweging van diere as gevolg van permitvereistes het ‘n invloed gehad; en
– die ywer vanaf produsentevlak met die stigting van veediefstal inligtingsentrums (VIS).
Clack het namens die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum dank uitgespreek teenoor die polisie en lede van VIS vir hul pogings. Produsente word ook gekomplimenteer vir hul bydrae in die daling van misdaad.
Die forum het ook lewendehawe agente en afslaers versoek om hulself by Landbouprodukte-agenteraad (Apac) te registreer. Lewendehawe agente en afslaers word wetlik verplig om te registreer in terme van toepaslike wetgewing. Produsente word voorts aangemoedig om ook slegs sake te doen met agente wat onder die wetgewing geregistreer is. Deur binne wetge­wing op te tree, sal meer suksesse bereik word.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version