Pieties se Stephan palm die onderskeidings in

Stephan het die meeste onderskeidings in Hoërskool Pietersburg vir 2019 behaal.

POLOKWANE – As die top leerder in PHS, Stephan de Lange spog met nie minder nie as sewe onderskeidings in die 2019 eindeksamen. Hy vertel dat hy oor die algemeen baie gelukkig en tevrede is met die punte wat hy behaal het. “Ek is dankbaar vir my sewe onderskeidings in Engels, Afrikaans, wiskunde, rekeningkunde, biologie, fisiese wetenskap en lewensoriëntering,” vertel hy.

Stephan gaan vanjaar met sy studies in aktuariële wetenskappe by Tukkies begin en vertel hy is baie opgewonde oor die nuwe uitdagings.

“Dit is ‘n geleentheid om my passie en liefde om met syfers te werk uit te leef,” vertel hy.

Vir Stephan is dit belangrik om net jou deel te doen as jy sukses in die skool wil behaal. “Wees bereid om jou pond vleis te gee en jy sal deur God se genade ontvang wat jy nodig het,” raai hy aan.

Stephan noem dat hy geëerd gevoel het om deel van ‘n hardwerkende groep wat mekaar ondersteun het te kon wees. “Ons is geseënd met baie goeie onderwysers wat elke leerder onder die vlerk geneem het en ‘n voorreg om by klas te kon kry,” las hy by.

As gevolg van sy liefde vir vakke soos wetenskap en wiskunde was hulle makliker vir hom om te bemeester. “Ek doen minder goed in Afrikaans en Engels en hulle was my uitdagendste vakke.”

Hy sê as hy homself moet beskryf is dit deur een woord, ‘doelgerig’, te gebruik.

“Geniet en waardeer die tyd saam dié waarmee julle die pad stap. Wees gemotiveerd en volhard want harde werk word beloon,” is Stephan se boodskap aan vanjaar se gr. 12 leerders.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version