Dit laat PHS se ‘Ghoempies’ bewe…

Review het by van die leerders gehoor wat hulle bekommernisse en opgewondenheid op die eerste dag is.

POLOKWANE – Die begin van ‘n nuwe kwartaal, veral as dit in ‘n nuwe skool is, kan baie uitdagend wees. Alles is vreemd en nuut en iets om gewoond te raak. Daarom is dit belangrik om mense wat bekend is met die omgewing, byderhand te hê om nuwelinge te verwelkom en bekend te maak met hulle nuwe omgewing.

Maandagoggend vroeg is die skoolsaal van Hoërskool Pietersburg in rep en roer toe vanjaar se gr. 8 leerders die religie-komitee van die skool ontmoet. Dié komitee, wat uit gr. 12-leerders bestaan, het die groep gr. 8’s verwelkom en ‘n paar aktiwiteite aangebied.

Een van hierdie aktiwiteite het gehelp dat die leerders mekaar beter leer ken. Elke leerder het hulle naam op ‘n papier geskryf en dié papiere is op hulle beurt in die saal rondgegooi. Die leerders moes elk ‘n naam optel, die persoon gaan soek en die persoon dan beter leer ken.

Review het by van die leerders gehoor wat hulle bekommernisse en opgewondenheid op die eerste dag is. Hier is wat hulle te sê gehad het:

Andri Swanepoel vertel dat sy nie bang is nie maar wel onseker oor wat sy moet verwag van die nuwe ervarings en skool. Sy is opgewonde oor die nuwe begin en ook omdat sy haar hoërskoolloopbaan afskop.
Larochelle Venter vertel dat sy bang is die verwelkoming sluit aktiwiteite soos hardloop in waarmee sy nie baie goed is nie en ook dalk modder waarvan sy glad nie hou nie. Sy is opgewonde oor die nuwe hoofstuk en hoe die skool gaan deel wees van haar toekoms.
Joey Maritz vertel dat sy bang is dat die ouer leerders van die skool nie vriendelik gaan wees nie. Sy is opgewonde om al haar vriendinne wat ook die skool gekies het weer te sien.
Lohan de Fin is bekommerd en onseker oor wat om te verwag vir die gr. 8 verwelkoming. Hy is opgewonde omdat hy sy ou maats weer kan sien en ook oor die nuwe maats wat saam met hom die skool gekies het.
Vaugn Donaldson is bekommerd omdat hy nie die skool ken nie. Hy is opgewonde oor die nuwe dinge wat hy gaan leer en nuwe ervarings as hoërskool leerder.
For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

riana@nmgroup.co.za

Exit mobile version