12 jaar later: ‘n Eerste vir Marike, Kruinies

Marike de Kock gaan BSc biologiese wetenskap, met die hoop om na ses maande keuring te kry vir medies (MBChB), by die Universiteit van Pretoria studeer.

POLOKWANE – Daar is heelwat mense wat kan spog dat hulle van gr.1 tot gr.12 in dieselfde skool was, maar Marike de Kock is die eerste leerder wat dié by Curro Heuwelkruin behaal.

Dié 18 jarige het haar skoolloopbaan afgesluit met raad aan haar jonger self: “Staan jou man. Wees wie jy is, moet nie laat mense oor jou loop nie. Laat jou stem gehoor word en onthou; skool is net ‘n klein stukkie van jou lewe, die res lê nog voor maar eers na skool.”

Marike is ‘n veelsydige leerder wat uitgeblink het in die klas asook op die sportveld. Sy beplan om nou in haar ouers se voetspore te volg.

“Ek het al my vakke baie ernstig opgeneem en gaan verder studeer by die Universiteit van Pretoria. Hier gaan ek BSc biologiese wetenskap, met die hoop om na ses maande keuring te kry vir medies (MBChB), studeer. Ek is wel ook op die waglys by ander universiteite vir MBChB (Bachelor of medicine and surgery).”

Marike vertel die mediese wêreld het nog altyd haar belangstelling geprikkel. Beide haar ouers is algemene praktisyne en sy is reeds van vroeg af blootgestel aan dié beroepskeuse en wat dit vereis.

“My ouers het nie verwagtinge by my geskep om medies te studeer nie, maar hulle het my geleer van die belangrikheid van gesondheid en om ander mense te help en voor my te plaas.”

Dié Kruinie was ook deel van haar skool se atletiekspan en het tot en met gr.11 netbal gespeel. Sy was ook betrokke by die Tiener Toneel Drama produksie. Sy glo met goeie tydsbestuur en ‘n goeie ondersteuningsisteem was dit vir haar moontlik om haar akademie, sport en kultuur gebalanseerd te hou.

“Dit was belangrik vir my om prioriteite en doelwitte vir myself op te stel om my te motiveer. Ek glo dit is belangrik om aan verskillende aktiwiteite deel te neem. Dit skep ‘n geleentheid om verskillende vaardighede aan te leer en verskillende belangstellings te ontwikkel. Ek glo ook gemeenskapswerk is baie belangrik vir ons jong generasie. In Suid-Afrika is daar soveel mense wat hulp nodig het en gemeenskapswerk wys ons waar ons ‘n verskil in ons eie land kan maak en dit het my ook gewys hoe bevoorreg ek is.”

Gedurende Marike se hoërskool jare het sy vier steunpilare gehad: Eerstens was dit haar ouers en familie, wat elke geleentheid aan haar gegun het en wie haar elke dag druk om die beste weergawe van haarself te wees.

“Tweedens is dit my vriende. In die oomblikke wat ek iemand nodig gehad het wat presies verstaan waardeur ek gaan, was hulle daar. Na my vriende was dit my onderwysers wat soveel tyd, moeite en geduld ingesit het om seker te maak dat ek die werk verstaan en vierdens was dit ek self, want op die ou-end is dit my motivering en dissipline wat my gaan deur trek.”

Marike en ‘n vriendin het in gr.10, 10-ure se gemeenskapswerk by Ngwana Baba Huis afgelê en in gr.11 was sy en nog mede-leerders deel van ‘n omgewingsdiens-fondsinsameling waarvan die geld aan The Highveld Horse Care Unit geskenk is. Hulle help perde en donkies regoor Suid-Afrika.

In Marike se opinie is dit belangrik om ‘n matriekvakansie te neem, ongeag hoe jy besluit om dit te spandeer nie. “Na ‘n ongelooflike stresvolle eindeksamen verdien ons dit om tyd vir onsself te vat en te ontspan. Dit is die perfekte geleentheid vir ons om herinneringe te bou saam ons skoolvriende voor ons almal op ons eie paaie gaan. Dit gee ons ‘n opwindende voorsmakie vir ons as jong volwassenes voorlê maar gee ons ook die geleentheid om totsiens te sê vir ‘n hoofstuk van ons lewe.”

Marike se raad aan 2020 se matrieks is om die tyd wat hulle het goed te benut. “Tyd is die kosbaarste ding wat jy het om weg te kan gee. Gebruik jou tyd op skool doeltreffend, moet nie dinge uitstel nie want met uitstel kom afstel. Tyd is gratis, maar dit is kosbaar. Jy kan dit nie besit nie, maar jy kan dit gebruik. Jy kan dit nie hou nie, maar jy kan dit spandeer. As jy dit verloor het, kan jy dit nie weer terugkry nie.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version