NewsSchools

Slimkop Lohandi meen nederigheid is belangrik

Lohandi Schutte is vir die afgelope drie jaar die top leerder in haar graad asook die top atleet vir Pietersburg Laerskool.

POLOKWANE – Lohandi Schutte het vanjaar met ‘n klomp van die skool se toekennings weggestap tydens die skool se jaarlikse prysuitdeling. Sy presteer goed in sport, akademie sowel as kultuur en vertel dat sy alles doen omdat sy haarself druk om die beste te kan wees in enige iets wat sy aanpak.

Sy loop vanjaar weg met die volgende toekennings:

• Goue seël sertifikaat.

• Toppresteerder in gr. 6.

• Provinsiale kleure in atletiek.

• Dogters landloop.

• Hokkie provinsiale span.

• Oppietongaf-redenaars – sesde plek nasionaal.

Lohandi het aan Review vertel dat sy nie seker is hoe sy alles gedoen kry nie, maar dat sy alles doen omdat sy daarvan hou om besig te bly. “Ek stel vir myself roosters op sodat ek by alles uit kan kom en ek glo dat om dinge op tyd te doen baie belangrik is. Ek sal seker nou in die hoër grade moet begin afskaal om meer tyd beskikbaar te kan stel vir my akademie maar dit is iets wat ek nog aan werk,” vertel sy.

Wanneer sy nie besig is met sport of skoolwerk nie hou sy daarvan om te lees en te swem.

Haar raad vir leerders wat nie van skool hou nie en dalk nie altyd ook so goed presteer daarin nie, is om altyd net hulle bes te probeer en dat hulle goed moet kry wat hulle geniet om te doen.

Lohandi vertel dat haar geheim om vinniger haar werk te leer is om dit op te maak in stories. Sodoende maak dit die werk vir haar lekker en sy onthou dit makliker.

Sy vertel dat haar gunsteling vak Afrikaans is maar haar uitdaging kom by wiskunde omdat sy nie glo sy is baie wiskundig aangelê nie. Sy werk reeds aan haar plan om fisioterapie te gaan studeer en sal graag haar haar deelname aan landloop wil voort sit. Sy glo redenaars help haar om haar selfvertroue te versterk asook met die vaardigheid om eendag voor en met mense te kan praat in haar beroep.

Lohandi vertel dat baie manse dink sy het ‘n voordeel omdat beide haar ouers onderwysers is maar sy dink dit is soms ‘n nadeel omdat baie leerders dink sy presteer slegs goed omdat haar ouers by die skool betrokke is en dat hulle nie altyd die harde werk wat daarin gaan om te presteer, besef nie.

Sy vertel dat meeste van haar maats trots is op haar as sy goed doen maar daar is ook maar jaloesie en kompetisie tussen haar en die ander top leerders van die graad.

“Ek dink dit is baie belangrik dat mens nie grootkop kry as jy iets goed kan doen nie. Jy moet altyd nederig bly,” vertel Lohandi.

riana@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button