De Lange moordsaak uitgestel vir verdere ondersoek

Die moordsaak van wyle konstabel, Pieter de Lange is laasweek in die Polokwane Streekshof tot 4 November uitgestel vir verdere ondersoek.

POLOKWANE – Op 8 November 2018 is De Lange noodlottig gewond toe vier gewapende mans hom tydens ‘n verby-ry geskiet het.

Pieter was vir 11 jaar aan die polisie verbonde. Hy was deel van die Westenburg-polisiestasie toe hy op die hoek van Witklip -en Bulawayostraat geskiet is terwyl hy en ‘n lid van die Ladanna gemeenskapspolisiëringsforum besig was met ‘n dwelmsaak.

Lees meer: National SAPS Commissioner condemns killing of Constable De Lange

Twee voertuie, ‘n wit Mercedes Benz en ‘n wit BMW het langs die voertuig waarin Pieter gesit het, stilgehou, gewapende mans het uit die voertuie geklim en op hulle begin skiet. De Lange is op pad na die hospitaal oorlede. Die lid van die gemeenskapspolisiëringsforum is nie in die voorval beseer nie.

‘n Saak van moord is oopgemaak en ‘n 31-jarige verdagte, Phuti Mehlape, was die eerste van drie verdagtes wat gearresteer is. Hy het op 28 Januarie in die hof verskyn. ‘n Ongelisensieerde vuurwapen en ‘n vermoedelik gesteelde voertuig is gevind en daarna is nog twee verdagtes vasgetrek. Die saak duur voort.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version