Fietser uit hospitaal ontslaan: Ons gebede is verhoor, sê HTS-hoof

HTS Tom Naudé se gebede is verhoor. Dit was die woorde van Tommie-hoof, Piet Holtzhausen, nadat Johan Horn (16) gister uit die hospitaal ontslaan is.

POLOKWANE – Horn het Vrydagoggend op pad skool toe, ernstige beserings opgedoen nadat sy fiets se voorwiel losgekom het op die hoek van Arnotha Rylaan en Genl. Maritzstraat in Bendor.

Lees ook: HTS-seun: dokters bepaal steeds omvang van beserings

Dit was ‘n moeilike naweek vir die Horn-gesin, waar Johan se ouers, Johan en Annelie langs hul seun se bed gewaak het terwyl dokters die omvang van sy beserings bepaal het. In ‘n persverklaring wat deur die skool uitgereik is, het hulle hul dank uitgespreek teenoor die skool en gemeenskap vir hul omgee en meelewing tydens en na die ongeluk: ‘Johan is vandag ontslaan uit die hospitaal na wat sy traumasjirurg noem ‘n ‘wonderbaarlike herstel’, lees die verklaring.

Holtzhausen was vanoggend duidelik verlig:

“Ons weet nog nie presies vir hoe lank Johan nie by die skool gaan wees nie, maar ons is baie dankbaar dat hy by die huis herstel en nie meer in die hospitaal nie.” vertel hy.
Hy voeg by dat die personeel van die skool vir Johan sal bystaan sodat hy nie agterraak met sy werk nie.

“Ek is op die oggend van die voorval geskakel en was aangenaam verras om te sien hoe die gemeenskap bymekaargekom het om Johan te help. In besonder was daar twee dames wat ek vandag wil uitsonder en baie dankie sê vir hulle bystand. Hulle het vir Johan nie een oomblik gelos het nie. Daar is ook ‘n man wat kom stilhou het en sy motor se nooddriehoek net daar kom los het om te help met die verkeer. Ek weet nie wie julle is nie maar ek kan vandag vir julle sê, baie dankie vir alles. Julle het my gewys dat ek nie hoef te wonder of daar steeds mense is wat omgee nie. Ek is trots om te kan sê dat, as daar iets sal gebeur, weet ek daar is mense van die stad wat reg is om hand by te sit,” het hy afgesluit.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version