HTS-seun: dokters bepaal steeds omvang van beserings

Die volgende 48 uur sal die omvang van die beserings wat 'n HTS-leerder Vrydag in 'n fietsongeluk opgedoen het, bepaal.

POLOKWANE – Johan Horn (16) het op pad skool toe, kop- en gesigbeserings opgedoen in ‘n fietsongeluk by die kruising van Arnothaweg en Wesselstraat.

You might also want to read: [WATCH] Learner injured on way to school

Die skool het gister `n verklaring uitgereik waarin hulle namens die ouers, privaatheid versoek.

‘HTS Tom Naudé se personeel, leerders en beheerliggaam, wens hiermee vir Johan Horn (16) baie sterkte toe in die herstelproses.

Nooddienste en ander weldoeners was vinnig op die toneel om vir Johan by te staan en sy ouers is ook onmiddellik ontbied. Hy is afgevoer na ‘n privaat hospitaal in die stad waar hy tans behandeling kry en onder waarneming in die waakeenheid is. Die volgende 48–72 uur sal bepaal wat die bestek van sy beserings is.’

Volgens die persvrystelling is sy ouers diep geraak deur al die belangstelling en boodskappe, maar die skool vra dat die ouers nie gesteur sal word in die volgende twee tot drie dae nie.

‘Dit is baie stremmend op ouers, om langs ‘n kind se siekbed te waak en daar gaan geen verandering wees oor die volgende twee dae nie, aangesien dit deel is van die behandeling. Die skool se bestuur doen alles in hulle vermoë om die gesin te ondersteun en wanneer meer hulp nodig is, sal ons die vrymoedigheid hê om die gemeenskap te nader. Intussen is Johan in baie goeie hande en ons bid vir sy volle herstel, lees die verklaring.

Navrae kan gerig word aan die Skoolhoof, Piet Holtzhausen by 084 602 3552 of die Beheerliggaamvoorsitter, Eben Potgieter by 060 984 3822.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version