‘n Helpende Hand vir Ons Winkel

Erken dit nou maar. Almal van ons het iets in ons huise wat ons net nie by uitkom om weg te gooi of vir iemand te skenk nie.

POLOKWANE – Vir maande aaneen sal jy elke dag vir jouself sê om daarvan ontslae te raak maar elke dag gaan die son weer onder, sonder dat jy ‘n plan gemaak het.

Nou is daar ‘n makliker oplossing. Jy kan sommer gou een Saterdag inspring en alles wat nie in jou huis gebruik word nie bymekaarmaak en dan vir Ons Winkel stuur.

Ons Winkel is ‘n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand waardeur jy skenkings kan maak.

Marianthie van der Walt is Helpende Hand se streekorganiseerder en vertel hoe dié inisiatief begin het.

“Ons eerste Ons Winkel het reeds 10 jaar terug sy deure oopgemaak en daar bestaan tans 45 winkels landswyd. Die geld wat gemaak word, word terug geploeg in die gemeenskap,” sê sy.

“Hierdie winkel sal die vyfde een in die streek wees. Al die geld word teruggeploeg en aangewend vir onder andere studielenings, koshuisgelde vir dié wat dit nie kan bekostig nie, bemagtiging en vele meer.”

Hierdie winkel sê nie nee dankie nie en jy is welkom om al jou linne, klere, kombuisware, of toebehore te skenk.

“Ons het nog nie ‘n perseel nie, maar kyk in dié stadium na die geskikte plekke. Sodra daar ‘n perseel is, kondig ons die datum aan en open ons die winkel.”

Intussen kan items by Zilla Ferns by DDKK afgegee word of alternatiewelik kan jy vir Zilla by 076 441 3349 kontak.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version