Local NewsNews

Kennealy – beskuldigde bly in selle

Die veertigjarige Kenny Ramatswana wat daarvan verdink word dat hy in Mei die voormalige Demokratiese Alliansie (DA)-raadslid en aktivis teen plaasmoorde, Annette Kennealy (51) op die plaas Welgevonden buite Louis Trichardt vermoor het, het Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn waarna die saak tot volgende week uitgestel is. Volgens Mienkie Ramak­goakgoa van die provinsiale polisie …

Die veertigjarige Kenny Ramatswana wat daarvan verdink word dat hy in Mei die voormalige Demokratiese Alliansie (DA)-raadslid en aktivis teen plaasmoorde, Annette Kennealy (51) op die plaas Welgevonden buite Louis Trichardt vermoor het, het Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn waarna die saak tot volgende week uitgestel is.
Volgens Mienkie Ramak­goakgoa van die provinsiale polisie se kommunikasiesentrum is die saak vir verdere ondersoek uitgestel en bly die verdagte in aanhouding.
Ramatswana is dieselfde dag nadat Kennealy se liggaam in haar huis gevind is deur die polisie by sy wegkruipplek buite die dorp aangekeer. Hy was ‘n werknemer van Kennealy.
Kennealy se familie het onraad vermoed toe sy die oggend van 21 Mei nie telefonies bereik kon word nie. Hulle is na die plaas­huis op die Levubupad buite Louis Trichardt waar hulle Kennealy se bebloede lyk op die vloer gevind het. Sy het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad.
Ramatswana wat ook op die plaas gewoon het, was glo nêrens te vinde nie en ‘n intensiewe soektog is geloods totdat ‘n arrestasie later die aand gemaak is.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button