Saai bied hulp met grondeiseproses

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), ’n landbounetwerk vir familieboere, het saam met ervare regslui prosedures ontwikkel om eienaars wie se eiendomme deur die grondeisekommissaris in die Staatskoerant vir onteiening gelys is, by te staan om vir moontlike hofsake voor te berei. Saai sê in ‘n mediaverklaring dat die proses om eiendomme in grondeise oor te …

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), ’n landbounetwerk vir familieboere, het saam met ervare regslui prosedures ontwikkel om eienaars wie se eiendomme deur die grondeisekommissaris in die Staatskoerant vir onteiening gelys is, by te staan om vir moontlike hofsake voor te berei.
Saai sê in ‘n mediaverklaring dat die proses om eiendomme in grondeise oor te dra, buitengewoon stadig en omslagtig is. “Vrywillige verkopers wat in 2003 aanbiedinge op hulle plase in Mooketsi aanvaar het, het steeds nie koopooreenkomste ontvang nie. Botsende eise lei tot groot spanning tussen eisers en veroorsaak konflik tussen gemeenskappe. Groot dele van Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en KwaZulu-Natal gaan onder die lysting van grondeise gebuk, waarvan sommige al 17 jaar lank sloer sonder dat enige verdere stappe gedoen is,” sê Saai.
Luidens ‘n mediaverklaring werk Saai reeds aan ’n groot aantal grond­eise van sowel sy eie lede as lede van sy netwerkvennote. “Die publikasie van ’n grondeis in die Staatskoerant is nog geensins ’n aanduiding van die geldigheid daarvan of van die staat se voorneme om die eiendom aan die eisers oor te dra nie. Dit is bloot ’n aandui­ding dat die eis op sigwaarde aan die administratiewe vereistes voldoen, en dat die grondeisekommissie daaraan werk. Geaffekteerde eienaars hoef nie die staat se toestemming te kry om verder te ontwikkel nie, maar moet die grondeisekommissie daarvan in kennis stel,” verduidelik Saai.
Volgens Saai het die publikasie ’n negatiewe uitwerking op die eiendomsmark, asook op eiendomswaardes in die geaffekteerde gebiede. Dit het veral sedert 2007 in baie gebiede ook banke en ander finansiële diensteverskaffers se gewilligheid om lenings toe te staan met die grond as kollaterale sekuriteit, negatief beïnvloed. Stadiger ontwikkeling veroorsaak ook afplattings in werks­geleenthede en ekonomiese groei.
Volgens Saai se direksievoorsitter, Theo de Jager, beywer Saai hom daarvoor om die Zondo-kommissie na staatskaping se magte uitgebrei te kry om ook grondhervorming te ondersoek. De Jager glo dat nougesette administrasie – vry van intimidasie, omkopery, nepotisme en korrupsie – ’n voorwaarde vir suksesvolle grondhervorming is.
Grondeienaars wie se eiendomme in die Staatskoerant gelys word, kan Saai kontak by navrae@saai.org.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Exit mobile version