Local NewsNews

Merke, gereed, gaan, vir pa en afrigter Jewaskiewitz

Vir Deon Jewaskiewitz is dit voorwaar 'n buitengewone voorreg om sy kinders te kan afrig.

POLOKWANE – “Die rol gaan gepaard met groot verantwoordelikheid, deernis en empatie wat soms diep aan jou hartsnare pluk gedurende strawwe en uitdagende oefensessies,” vertel hy.

Jewaskiewitz dink kinders wat afrigting van ouers ontvang, trek verseker voordeel daaruit.

Lees meer: Pastoor Deon nael voluit!

“Daar is ‘n voortdurende gesprek. Jy kan strategiese beginsels rakende tegniek by die huis ook bespreek. Of jy kan dit sommer gou weer op die grasperk verfyn. Jy kan selfs seker maak die moet en moenies van kos innames word gevolg,” verduidelik Deon.

Hy glo daar is ‘n eindelose band wat verder strek as net die normale liefde tussen ouer en kind. Dit verpersoonlik in die gesamentlike doelwit en ideaal van optimale presteer. “Die ouer/afrigter is nou nie net die een wat sy kind gaan aflaai by die afrigter en dan weer sien by die wedstryd of atletiek baan nie. By my in my afrigting van atlete is die norm dat ons atletiek daagliks eet en drink en sommer nog droom ook,” sê Deon.

Wanneer daar aangetree word en begin word met losmaak en oefeninge, is dit hy en sy atlete. Hy tref geen onderskeid tussen sy eie en die ander kinders wat hy afrig nie. “Vir daardie oomblik is dit nie meer pa en kind nie, maar pa en atleet. Dan word elke atleet onder jou sorg, jou kinders met wie jy ‘n pad stap. Elkeen met sy eie talent wat vra om ontwikkel te word. Daar word bande gebou en prestasies verbeter, wat jou en jou atleetkind se gesamentlike prestasie word. Daar is hartseer, maar ook vreugde wanneer die podium wink en jy eenkant staan en julle oë ontmoet. Die warmte en gesamentlike vreugde, die harde werk het sy vrug gelewer. ‘n Nostalgiese oomblik in die soetheid van oorwinning. Dit is die droom van ‘n Vader vir sy kind,” voeg hy by.

Sy manier van afrig: “Om saans op my bed elke wedstryd te ontleed, aanpassings te maak om dit dan weer met hom of haar reg te skaaf in die volgende oefening.”

Jewaskiewitz se raad aan ander pa’s wat hul kinders gaan afrig is om eerstens die vakgebied te ken. Kry die regte aanstellings by Atletiek SA en of SA Rugby byvoorbeeld.

“Dit is van uiterste belang dat jou kinders kan weet jy is toegerus en vaardig om hulle te neem na die volgende vlak, tot die verkryging van hulle persoonlike drome. Omdat dit jou eie kind is. Lê sy/haar droom in die vaardigheid van jou afrigtingsvermoë. Dit alleenlik plaas ‘n enorme druk op jou professionaliteit en geloofwaardigheid,” verduidelik Deon.

Hy sluit af: “Jy gaan steeds saam huil van vreugde in elke oorwinning wat die vrug van harde arbeid en uiters lang en eensame oefen ure behels. Dit is hierdie bydraende dele wat die somtotaal van sukses waarborg.”

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button