NewsSchools

Suidskoolhoof, Peet Bredenkamp roep vaarwel

Na 27 jaar gaan Peet Bredenkamp (62) aan die einde van die kwartaal die tuig as hoof van Pietersburg Laerskool finaal neerlê en sy droom om Suid-Afrika te verken en moontlik weer ‘n beesboerdery op die been te bring, nastreef. “Suidskool is ‘n plek waar ek altyd gelukkig en geseënd was. Die vriendelikheid en welwillendheid …

Na 27 jaar gaan Peet Bredenkamp (62) aan die einde van die kwartaal die tuig as hoof van Pietersburg Laerskool finaal neerlê en sy droom om Suid-Afrika te verken en moontlik weer ‘n beesboerdery op die been te bring, nastreef.
“Suidskool is ‘n plek waar ek altyd gelukkig en geseënd was. Die vriendelikheid en welwillendheid van ouers, kinders en onderwysers is iets wat ek altyd sal onthou,” sê Bredenkamp.
Volgens Bredenkamp was die hoogtepunt in sy loopbaan om elke dag te kon sien hoe leerders met kennis, norme en vaardighede bemagtig word en geestelik groei. Die lekkerste vir hom was om gedurende die tyd te sien hoe voormalige leerders vandag ouers is wat hul kinders kom inskryf.
Oor verandering in die onderwys sê Bredenkamp dat die dissiplinêre stelsel veroorsaak het dat onderwys ‘n uitdagende beroep geword het. “Destyds het kinders grootgeword met die begeerte om te leer – vandag wil hulle alles hê sonder om daarvoor te werk. Binne dié milieu is dit moeilik om steeds kinders te motiveer om te presteer en hulle die regte norme en waardes te leer,” sê Bredenkamp.
Hy sê ten spyte van alles het hy altyd goeie samewerking van ouers, kinders en onderwysers in enige situasie ontvang. “Dit gaan oor elke kind se sukses en wat baie belangrik is, is dat opvoeding in die ouerhuis begin.”
Oor die besluit of hy sou aanbly as hy kon, sê Bredenkamp dat hy nou beslis met onderwys klaar is.
Sy vrou, Liana, gaan in September ook as onderwyser aftree. “Ek gaan die karavaan hak en ons gaan die land verken. My droom is om die hartklop van elke dorp te leer en te verstaan,” sê Bredenkamp oor sy toekomsplanne, maar voeg by dat ‘n goeie stuk grond met beeste steeds vir hom na ‘n goeie opsie klink.
Bredenkamp, vir wie behoeftige kinders na aan die hart lê, het onlangs sy tweede boek vrygestel. Dié boek bestaan uit dagstukkies vir elke dag van die jaar. “Dit kos my R83 om die boek te druk en word by die skoolkantoor teen R125 verkoop. Die R42 wins word in ‘n rekening inbetaal wat vir behoeftige kinders aangewend sal word,” sê Bredenkamp.
Bredenkamp was vir 39 jaar in die onderwys. “Die besondere lojaliteit, omgee en welwillendheid waarin ek kon deel, strek ook ver buite die onderskeie skoolgemeenskappe. Daarom ook my opregte dank en waardering aan die onderskeie breër en uitgebreide gemeenskappe waarbinne ek die geseënde voorreg gehad het om my loopbaan as onderwyser te kon uitleef.”
Operasionele hoof, Jacques Bartlett sal voorlopig as hoof waarneem. “Bredenkamp het die leidende rol gespeel in Christelike opvoeding en onderrig van elke kind. Die kinders se omstandighede en gesondheid was vir hom ernstige sake waaraan aandag gegee moes word. Met ywer en entoesiasme het hy ons skool bestuur. Hy was ‘n ambassadeur van formaat vir ons skool,” het Bartlett hom beskryf.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button