POLOKWANE – Die groepie Voortrekkers van die Doornkraal Voortrekkers, bestaan uit slegs sewe jongmense, maar hulle het ingespring en ‘n heerlike ete voorberei vir die 95 bejaardes.
Op die spyskaart was kapokaartappels en kookvleis met wortels in.
Saam het hulle geskil, gesny, gekook en natuurlik geproe voordat hulle die ete gaan aflaai het.
Daar was 10 kg kookvleis wat in die drukkoker sag gekook het, 4 kg wortels wat gesny en geskil moes word asook 8 kg aartappels wat tot kapokaartappels verwerk moes word.
Lené de Beer, een van die jonger Voortrekkers, vertel oor haar ervaring. “Ons het al die skille van die wortels vir die hase en skilpaaie gevoer. Nou gaan ons die kos vir die tannies en ooms gee.”
Venita Olivier, Voortrekker offisier, vertel die laerskool groep Voortrekkers het baie gekrimp. “Behalwe vir die kosmaak, het ons ook ander lekker projekte en ons gaan kamp gereeld. Enige een wat Afrikaans en ‘n Christen is, kan deel word van die Voortrekkers, ongeag van hulle ouderdom.”